Local news

Paasfees: Die dood is nie die einde nie

Die lewe en die dood (Jesus Christus se kruisiging en opstanding) is twee sentrale onderwerpe wat tydens Paasfees van die preekstoel en om die etenstafel bespreek word.

Vir sommige kinders het Paasfees nog nie die ware betekenis gekry nie en is die hoogtepunt van die langnaweek die paashaas en die oorvloed sjokolade wat hul kan eet.

Die Pos het by ds. Barry van Wyk, leraar van die Nederduitse Hervormde Kerk Warmbad, gaan inloer om te gesels oor die Paasfeesvieringe.

“Kersfees kan nooit gevier word sonder dat Paasfees eers gevier word nie, en andersom,” sê hy. Die belangrikste is dat Christus gebore is en gesterf het sodat ons hier op aarde steeds daarna streef om eendag die ewigheid saam met Hom te kan hê. Sonder Christus is ons eintlik dood.”

Baie mense in die land ervaar tans trauma. Hulle voel moedeloos en soms hulpeloos en dit lei daartoe dat hulle nie meer die Lig sien nie, meen hy.

Dit gebeur ook soms dat mense Christus nie as ’n verheerlikte figuur sien nie, maar altyd as die man op die kruis wat steeds ly.

“Die omstandighede in die land maak mense agterdogtig en hulle probeer al hoe harder om dinge sélf te hanteer. Die probleem is dat mense dink hulle is ten volle in beheer, maar hulle is nie — God is,” sê hy.

“Mense sê soms dat hulle een voet in die graf en een voet in die lewe het. Sulke gedagtes bring die dood net al hoe nader. Hulle moet hulself liewer as ’n bergklimmer sien wat al hoe hoër klim en ’n al hoe beter uitkyk op die lewe kry — op pad na die ewige lewe.”

Hy sê die Bybelse dissipels het dieselfde ervaring gehad in die dae nadat Christus gekruisig is.

Hulle het hom opeens nie meer as dood gesien nie, maar as verheerlik en dit het hul uitkyk op die lewe verander.

“Jesus se graf was nog altyd leeg. Mense moet Hom nie by die dood se adres gaan soek nie. Hy het die dood oorwin,” sê hy.

“Dank die Here daagliks vir dit wat jy ervaar en beleef en weet dat die dood nooit die einde is nie. Ons leef nou op aarde, maar eendag sal ons vir ewig lewe.”

Related Articles

Back to top button