Local news

Kanker eis staatmaker-onderwyser

Die Bela-Bela-gemeenskap is in rou gedompel ná die dood van ’n geliefde- en staatmakeronderwyser van Laerskool Warmbad.

Corné Luddick (38) is op Saterdag 25 Maart in Pretoria oorlede nadat sy in 2021 met kanker gediagnoseer is en sedertdien behandeling daarvoor ontvang het.

Haar broer, Jaco Luddick, het aan Die Pos vertel sy het die afgelope ses maande by haar pa, Gert, in Pretoria gewoon nadat sy op ongeskiktheidsverlof geplaas is.

Sy was in ’n rolstoel nadat haar toestand versleg het en is by haar pa se huis oorlede.

“Ons het pleegsorgdienste vir haar gereël en ’n verpleegster het daagliks na haar behoeftes omgesien. Sy en my kinders het ’n hegte verhouding gehad, want dit was altyd lekker as tannie Corné hulle kom oplaai of uitgeneem het. Sy was tot met haar dood ’n positiewe mens,” sê Jaco.

Hy vertel ook Corné het ’n groot liefde vir mense gehad en hulle het vinnig lief geword vir haar. “Sy het altyd die beste in ander gesien.”

Corné het in Rooihuiskraal in Centurion grootgeword waarna sy haar skoolloopbaan by Laerskool Rooihuiskraal en by Hoërskool Uitsig voltooi het.

Sy het onderwys gestudeer waarna sy by Laerskole Uitsig, Swartkop en Paratus onderrig gegee het. Sy het later na Bela-Bela verhuis en by die Warries ingeskakel. Sy het ’n honneursgraad in onderwysbestuur gehad.

Liezl Grobler, onderhoof van Laerskool Warmbad, het gesê Corné het sedert 2014 diep spore by die skool getrap. Sy was altyd bereid om te help en het ’n ongelooflike humorsin gehad, vertel sy.

“Corné het aanvanklik by die skool se grondslagfase begin en die afgelope paar jaar vir gr. 5- en 6-leerders Afrikaans Huistaal, lewensoriëntering en sosiale wetenskap aangebied. As daar iets was wat gedoen moes word, het Corné altyd haar hand eerste opgesteek. Haar positiwiteit was aansteeklik. Sy was die regterhand van die skool.”

Sy was ook betrokke by netbal, revue, redenaars en ’n organiseerder van die skool se kaskardag.

Vir Theron Brand, skoolhoof, was die nuus ’n emosionele saak.

“Ons het vandag een van ons sussies verloor. Ons harte is seer. Corné sal altyd in ons gedagtes wees. Sy is nou verlos van haar pyn en is by ons Vader. Mag Jesus
elkeen styf vashou in Sy liefdevolle hand,” het hy in ’n huldeblyk gesê.

Haar gedenkdiens word beplan vir Maandag 3 April vanuit die AP Kerk Verwoerdburg in Centurion.

Sy laat haar pa, broer en die res van haar familie agter.

Related Articles

Back to top button