Local news

EFF se planne is nog lank nie klaar

Die EFF het volgens talle Suid-Afrikaners maar ’n flou poging aangewend om die land op Maandag 20 Maart tot stilstand te bring tydens hul nasionale betoging om te kla oor beurtkrag en om te eis dat pres. Cyril Ramaphosa moet bedank.

Hoewel daar sprake van geweld en plundering was, het die optrede van die polisie, weermag en privaat veiligheidsdienste enige sulke planne in die kiem gesmoor.

Die tweede gevoelige slag vir die EFF was die dag ná die betoging toe AfriForum bekend gemaak het dat die konstitusionele hof Julius Malema, EFF-leier, se verlof tot appèl van die hand gewys het. Dié saak spruit uit ’n 2017-interdik teen hom en die EFF dat hulle grondbesetting en betreding aangehits het.

Ongeag dié voorvalle is die party steeds diep gewortel sedert sy ontstaan in 2013.

In Limpopo is hulle tans die amptelike opposisieparty nadat hulle die DA as die provinsie se nommer twee in die laaste verkiesings getroef het.

Volgens inligting van die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) het die EFF ná die 2021-munisipale verkiesing altesame 168 raadslede in 22 munisipaliteite ingehuldig.

In Die Pos se lesersgebied is daar twee EFF-raadslede in Bela-Bela, vier in Modimolle-Mookgophong en 13 in die Mogalakwena-munisipaliteite ingehuldig. Polokwane het die meeste met 21.

Hoewel daar ongeveer 1,1 miljoen mense in Limpopo gaan stem het uit die 2,5 miljoen geregistreerde kiesers, het die EFF steeds 320 801 stemme op hulself verenig.

Hulle nasionale ondersteuningsbasis het volgens die OVK ná die 2019-verkiesing op 1,8 miljoen kiesers gestaan.

’n Studie wat tussen Desember 2017 en Desember 2022 gedoen is, toon die EFF se grootste ondersteuning lê by jong kiesers (18 tot 49). Hulle grootste ondersteuningsbasis is in Gauteng.

Hoewel hulle 36% ondersteuning in die stede geniet, is hul groter ondersteuning volgens die studie uit townships en afgeleë nedersettings (37%). Voorts het 64% van die EFF-ondersteuners wat aan die studie deelgeneem het, gesê dat die ANC slegs in hul eie belang in die land optree. Sowat 70% van landsburgers wat EFF-lede insluit, glo lewenskoste styg hoër as die inflasiekoers.

Altesame 52% van die ondersteuners glo dat gewelddadige betogings die enigste manier is om dienslewering te verbeter.

Altesame 70% van die EFF-ondersteuners glo die voortslepende Eskom-beurtkragkrisis sal die ANC se stempersentasie in 2024 negatief beïnvloed. Sowat 47% van die EFF-ondersteuners sê indien beurtkrag nie tot ’n einde kom nie, sal hulle nie aan die volgende verkiesing deelneem nie.

Groot feesvieringe word in Julie vanjaar beplan wanneer die EFF hul 10de bestaansjaar vier.

Die Pos het pogings aangewend om plaaslike, provinsiale en nasionale woordvoerders se kommentaar te kry, maar die meeste het nie hul telefone beantwoord nie.

Related Articles

Back to top button