Local news

Glansaand is net om die draai

Die Afrikaanse Protestante Kerk (AP Kerk) in Mookgophong bied op Saterdag 15 April ’n glansgeleentheid by Castle De Wildt buite Modimolle aan.

Gaste kan uitsien na ’n heerlike driegangmaaltyd en vermaak uit die boonste rakke.

Die gewilde Juanita du Plessis sal die gaste bekoor met haar fluweelstem en Evert van Niekerk, ’n begaafde violis, sal ook optree.

“Soos baie ondernemings gaan kerke en ouetehuise steeds gebuk onder die ekonomiese druk wat die Covid-19-pandemie nagelaat het. Dit is vir ons ’n groot voorreg om die spoggeleentheid aan te bied as deel van ons fondsinsameling om nie net die kerk se koffers aan te vul nie, maar ook bystand te gee aan die Tuiste vir Bejaardes in Mookgophong. Ons maak voorsiening vir ongeveer 600 gaste,” het Floris Booysen, een van die organiseerders, gesê.

Verskeie borge het ingestem om ’n bydrae te lewer om die aand moontlik te maak.

Tydens verlede jaar se geleentheid is die gaste bederf met ’n smullekker-ete wat deur studente van die Limpopo Chefs Academy voorberei is. Gaste het hul hand diep in die sak gesteek vir die items wat na afloop van die spogete opgeveil is.

“Moenie vanjaar se glansgeleentheid misloop nie. Dit gaan ’n wonderlike aand wees,” het Booysen gesê.

Bel hom by tel. 082 578 1687 indien u ’n bydrae wil maak of deel wil wees van die glansgeleentheid. Slegs enkele kaartjies is nog beskikbaar.

Related Articles

Back to top button