Municipal

Droë krane maak Modimolle se mense vies

Droë krane veroorsaak die afgelope tyd groot frustrasie by die inwoners in Modimolle.

Die inwoners kla dat hulle slegs ’n gedeelte van die dag water het, of dat die druk só laag is dat daar net ’n flou straaltjie water uittap wanneer ’n kraan oopgedraai word. Dele van die dorp het nie elke dag water nie en is afhanklik van watertrokke.

Magalies Water verskaf water aan onder meer Bela-Bela, Modimolle en Mookgophong via hul Klipspruit-aanleg waar die water behandel word. Hierdie water word vanuit die Pienaarsrivier en Roodeplaatdam gepomp. Magalies Water het sedert Januarie probleme met hul waterpompe ondervind en kan slegs 70% tot 80% van die water verskaf waarvoor die aanleg ontwerp is.

Luidends ’n mediaverklaring is twee van die vier pompe wat rou water vanuit die Pienaarsrivier pomp, buite werking nadat klippe en opdrifsels dit beskadig het. Die pompe is verwyder en aan die verskaffers gestuur om te herstel. Dit sal na verwagting agt tot tien weke duur omdat die onderdele bestel moet word. Klipdrift is ook geraak deur kragonderbrekings, hoewel hulle vrygestel is van beurtkrag.

Die waterverskaffer het aangedui dat die pompe weer gedurende die eerste week van April in werking sal wees en die volle waterkwota dan gelewer sal word. Die ooreengekome kwota water aan die munisipaliteite kon sedert Maandag 27 Februarie nie gelewer word nie. Dit sal slegs moontlik wees om aan die ooreenkoms te voldoen wanneer die Klipdrift-aanleg weer teen volle kapasiteit werk.

Weens die verminderde waterverskaffing van die Klipdrift-aanleg moes die pompe by die Sondela-pompstasie noodgedwonge afgeskakel word om skade te vermy. Dit het die waterverskaffing na Bela-Bela, Modimolle en Mookgophong beïnvloed, het Magalies Water aangedui.

Magalies Water se verskeie wateraanlegte verskaf water aan die Moses Kotane-munisipaliteit (Sun City), Rustenburg-munisipaliteit, Thabazimbi-munisipaliteit en aan Tshwane.

Grootmaatverskaffing word ook gelewer aan die verskeie myne in Limpopo, Gauteng en in Noordwes: Bafokeng Rasimone platinummyn, Bakubung Minerals, Cullinan-diamantmyn, Impala platinummyn, Northam platinummyn, Pilanesberg platinummyn, Rhino Andalusietmyn, SA Ferrochrome, Union Section Joint Venture-myn en aan die myne van die Royal Bafokeng-administrasie.

Op hul webwerf dui die waterverskaffer aan dat hulle 314 miljoen liter water per dag kan lewer. Indien dit slegs vir huishoudings aangewend sou word, sou hulle water aan meer as 1,2 miljoen huise kon verskaf.

Related Articles

Back to top button