Municipal

Suiweringswerke die rede vir vuil water

Die inwoners van Bela-Bela bly hande in die hare oor die waterkrisis in die dorp.

Die belofte van opgraderings by die suiweringsaanleg is nog net beloftes.

Verskeie faktore het veroorsaak dat die dorp steeds gebuk gaan onder daaglikse waterbeperkings. Inwoners is radeloos oor die daaglikse kennisgewing van die munisipaliteit wat lui dat die toevoer vir tot agt ure per dag opgeskort word. Wanneer daar wel water in die krane is, is dit dikwels vuil en ruik onaangenaam.

Beurtkrag word as die rede aangevoer hoekom inwoners se krane droog is. Die pompe kan nie voldoende water in die reservoirs pomp om aan die inwoners se gebruik te voldoen nie. Dit skep ook bykomende probleme in die dorp se sanitasie-infrastruktuur.

“Dit kom alles terug na die suiweringsaanleg waar die probleme ontstaan wanneer ons beurtkrag het,” sê Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid vir Wyk 1. “Daar is tans drie punte in die aanleg wat buite werking is. Ons sal druk uitoefen om die kontrakteur wat die aanleg die afgelope paar jaar opgegradeer het, tot verantwoording te roep.”

Cloete sê planne is intussen goedgekeur om privaat kontrakteurs te kry om van die toerusting te herstel.

Tenders is in 2022 goedgekeur vir agt hoë-kapasiteitkragopwekkers (150 kVA elk) wat by elke waterinfrastruktuurpunt opgerig sou word. Die aanvanklike begroting was R4,9 miljoen wat uit ’n regeringstoelae befonds sou word.

Die spesifikasies by sekere punte het egter verander, aangesien sekere punte van die infrastruktuur nie noodwendig groot kragopwekkers nodig het nie, sê Cloete.

Hy het bevestig dat daar nog geen kragopwekker geïnstalleer is nie.

“Die kontrakteur is reeds aangestel en is besig om betonblokke volgens spesifikasies op te rig waarop die kragopwekkers geïnstalleer sal word. Hoewel Magalies Water van beurtkrag gevrywaar is, is hul pompstasies nie. Hulle lewer dus omtrent die helfte van wat hulle moet.”

Weens die suiweringswerke wat nie optimaal funksioneer nie, word daar ongeveer 2,4 megaliter per dag gesuiwer en in die reservoirs gepomp. Die aanvraag van die dorp is daagliks ongeveer sewe megaliter, het Cloete gesê.

“Om die maksimum hoeveelheid water te suiwer, moet die aanleg 20 uur per dag werk. Daar is goeie vordering tot dusver, maar die probleem moet dringend aangespreek word ander sal die dorp se watergehalte beslis versleg.”

Cloete sê hy is bewus van bewerings dat verskeie mense siek geword het weens die dorp se water, maar dat die jongste watertoetse wat gedoen is daarop dui dat die watergehalte op standaard en veilig is om te gebruik.

“Daar is geen ordentlike oorsig gedoen toe die suiweringsaanleg opgegradeer is nie. Ons vertrou dat afskeepwerk nie voortaan geduld sal word nie, want ons het direkte insae tot kontrakte en die werk wat vir die suiweringsaanleg beplan word.”

Die verwagting is dat die kragopwekkers eers in Mei operasioneel sal wees.

Related Articles

Back to top button