Letters

Die pragtige Waterberg wink vir almal

’n Lushof soos hierdie voed opnuut ’n mens se siel en gee jou nuwe perspektief op die lewe.

Santie Gildenhuys, inwoner van Modimolle, skryf:

Waar kom ons aan die idee dat ’n mens noodwendig op ’n vliegtuig moet klim na die een of ander eksotiese eindbestemming om die ideale naweekwegbreek of vakansie te beleef? Nie net kry ons finansies ’n gevoelige knou nie, maar boonop kyk ons die idilliese plekke hier in ons eie lieflike Waterberg-distrik totaal en al mis.

Ek het onlangs navraag per e-pos gedoen by ’n vakansieplek in die omgewing. Die eienaar het dadelik geantwoord. By die billike tarief vir drie nagte se verblyf in ’n goedtoegeruste tweeslaapkamer-rondawel, is ook twee wildritte ingesluit. Die plaas het talle wildspesies.

’n Besoeker kan ook lyn natmaak by die dam en kort voor lank ’n gulsige kurper inkatrol. In die ontspanningsvertrek kan jonk en oud mekaar uitdaag in potspel of veerpyltjies of jy kan jouself sommer net rustig in die leeshoekie tuismaak met ’n boek of tydskrif wat jou oog vang.

Sommer vroegaand reeds verwelkom ’n naguiltjie jou waar jy by ’n ordéntlike Bosveldvuur sit danksy die hope braaihout wat verskaf word.

Terwyl ek hierdie brief tik, sit ek juis heerlik agteroor op die yslike rusbank op die stoep van een van die talle wildsplase sowat 20 km buite Bela-Bela.

Voor my wink die blink water van ’n silwerskoon swembad. Die vinke kerjakker kwetterend van nessie tot nessie in die vier papierbasdoringbome langs die koel lafenis.

Maar sekerlik die belangrikste van alles, is dat ’n lushof soos hierdie opnuut ’n mens se siel voed en jou nuwe perspektief op die lewe gee.

Neem gerus die vrymoedigheid om uit te kyk wat die Waterberg-omgewing jou en jou gesin of vriendekring bied. Onderhandel ’n spesiale tarief wat julle sak pas. En kort voor lank is jy skoon ’n ander mens ná jou vreugdevolle ervaring.

Related Articles

Back to top button