Schools

Leerder maak ’n verskil op Roedtan

Een van die gr. 7-leerders van Mokopane Destiny Academy, Leo Lemos, het die inisiatief geneem om die aangesig van die munisipale gebou in Roedtan op te knap.

Leo woon op ’n plaas in die Roedtan-omgewing.

Die projek is op Saterdag 11 Maart aangepak en met die hulp van die Lemos-gesin, verskeie ander leerders en vrywilligers uit die gemeenskap het die gebou nou ’n splinternuwe baadjie. Die groep het die munisipaliteit se geboue skoongemaak en geverf. Die gebou was ’n baie ou en onooglike turkooiskleur geverf en lyk nou splinternuut in sy beige baadjie.

Leo is in gr. 6 deur sy onderwyser, Lourina van Zyl, geïnspireer om ’n verandering in sy gemeenskap te maak en het hy toe die I love Roedtan-projek begin. Die verf en skoonmaak van die gebou was die derde projek wat hy geloods het en hy beplan nog vele meer.

“Dankie aan al die mense van Roedtan wat Saterdag gehelp het. Ons hoop om volgende keer meer van julle te sien,” het Leo gesê.

Volgens burgemeester Marlene van Staden lyk die gebou die beste wat dit in jare was. Van Staden het die I love Roedtan-projek geloof vir die goeie werk en gesê hulle kan trots wees op wat hulle verrig het. Sy het ook die borge bedank vir hul onbaatsugtige bydraes en inwoners van die omgewing genooi om te gaan kyk hoe die munisipale geboue nou lyk.

“Jy kan óók ’n verskil maak deur voor jou eie huis en sakeonderneming skoon te maak. Hoe beter ons dorpe lyk, hoe beter kans het ons om toeriste en beleggers te lok. Dit wys net weer vir ons almal: #wearebettertogether,” het sy aan Die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button