Crime

In sak en as ná vraestelle weg is

Talle tuisonderrigleerders wat in 2022 hul matriekeksamens afgelê het, se toekoms is onseker nadat dit aan die lig gekom het dat matriekvraestelle glo ná ’n voertuigkaping buite Hammanskraal weggeraak het.

Tuisonderrig-matriekkandidate het verlede jaar hul eksamens by die Suid-Afrikaanse instituut vir omvattende assessering (Sacai) se Hammanskraal-tak afgelê.

Sacai het in ’n verklaring aan Die Pos gesê altesame 61 vraestelle het vermis geraak. Daar is 30 matrikulante van vier verskillende tuisonderrig-instansies in Limpopo wie se antwoordstelle weg is.

“Die gewapende rooftog het op Dinsdag 15 November plaasgevind. Die vraestelle was in ’n duidelik gemerkte Sacai-houer geplaas nadat die eksamen by een van ons eksamenlokale afgelê is. Die betrokke koerierdiens het kort ná die rooftog ’n klagte by die Hammanskraal-polisie gaan open. Die houer is tot vandag toe nie gevind nie,” het Keith Maseko, hoofuitvoerende beampte van Saica, in ’n verklaring gesê.

Die vraestelle wat matrikulante op die dag geskryf en ingedien het, was Engels Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, Setswana Huistaal, Afrikaans Huistaal, Ingenieursgrafika en -ontwerp, besigheidstudies, fisiese wetenskap en geskiedenis.

“Kennisgewings is reeds aan die betrokke matrikulante gestuur dat hulle teen geen koste die eksamens in Mei en Junie sal kan herskryf. Hulle sal ook van die nodige hulpbronne voorsien word,” lui die verklaring.

Sacai sê hulle bly daartoe verbind om geloofwaardige assesserings aan kliënte te verskaf en beskou die saak in ’n baie ernstige lig.

“Ons wil graag aanhou om ondersteuning aan die betrokke leerders te bied en wens hulle alle voorspoed toe,” het Maseko gesê.

Een van die betrokke ouers, wat in Bela-Bela woon, het met Die Pos gesels op voorwaarde dat haar naam en dié van haar seun verswyg word.

Volgens haar is talle ouers warm onder die kraag. Hulle het eers in Februarie van die voorval bewus geword.

“Ons moes die instansies self bel toe die finale uitslae vroeg in Januarie aanlyn bekendgemaak is. My kind het nog nooit in sy skoolloopbaan ’n vak gedruip nie. Die kode “777” wat op my seun se aanlyn-resultate verskyn het, het aangedui dat daar uitslae uitstaande is en ons het agterdogtig geraak,” vertel die ouer.

Dit het die onderrig-instansies, asook die raad vir gehalteversekering in algemene en verder onderrig en opleiding (Umalusi), ’n volle maand geneem om te beslis dat die leerders wie se vraestelle weggeraak het, die vraestelle moet herskryf, het die ouer gesê.

Hoewel Sacai appèl aangeteken het teen Umalusi se besluit, is die reëling nou finaal en is kandidate op Maandag 27 Februarie amptelik in kennis gestel dat hulle die vraestelle moet oorskryf, lui ’n verklaring.

“My kind was met vakansie toe ek die slegte nuus met hom gedeel het. Ek was in trane en my kind is nog steeds ontsteld dat sy toekomsplanne ontwrig is,” vertel die ouer.

“Ons het gelukkig al sy handboeke teruggekry. Nou gaan dit baie motivering kos om hom weer voor sy boeke te kry om uiteindelik sy nasionale sertifikaat te behaal.”

“My kind sou vanjaar Nieu-Seeland toe gaan, maar alles is nou vertraag omdat hy nie oor ’n matrieksertifikaat beskik nie. Ons het baie geld bestee in die soeke na die beste toekoms vir ons kind. Ek wil net hê my kind moet matriek voltooi; dit is al. Dit is nie sy, Sacai of Impaq se skuld wat gebeur het nie.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button