Local news

Beurtkrag knou Bela-Mall

Sakeondernemings in Bela-Bela trek swaar tydens beurtkrag.

Die Pos het die bestuur van die Bela-Mall genader omdat die sentrum ’n sentrale rol in die plaaslike ekonomie speel.

“Die inkopiesentrum maak steeds goeie wins ten spyte van die uitdagings, maar daar is tye, gewoonlik tydens beurtkrag, wanneer die sentrum baie stil is. Dit maak ons baie bekommerd om te dink dat ons reusebedrae sal moet begroot vir alternatiewe kragopwekking,” sê Greyling Lamprecht, be-
stuurder van die Bela-Mall.

“Sekere winkels in die sentrum sluit weens veiligheidsredes wanneer beurtkrag begin. Die veiligheidsbeamptes is ook dan meer op hul hoede,” sê hy.

“Die kos- en groter kettingwinkels doen steeds goed sake, maar dit beïnvloed die winsmarges wanneer derduisende rande bestee word om van hoëkapasiteit kragopwekkers gebruik te maak.

Die kleiner sakeondernemings kan nie hierdie bykomende uitgawe bekostig nie en daarom sluit hul hul deure wanneer daar beurtkrag is.”

Hy het voorts gesê die sentrum se huurders het vaste kontrakte, maar volgehoue beurtkrag veroorsaak dat die toekoms van kleiner sakeondernemings nie rooskleurig is nie.

“Ons beleef groot uitdagings wat water en sanitasie betref. Die sentrum se rioolinfrastruktuur is onlangs op eie onkoste herstel nadat die munisipale rioolaanleg tot stilstand gekom het en ons infrastruktuur beskadig is. Ons kan ons uitgawe vir die herstel van die infrastruktuur direk voor die deur van die munisipaliteit lê.”

Die dorp se munisipale infrastruktuur staan gereeld stil wanneer beurtkrag intree. Wanneer die watervoorsiening gedurende die dag opgeskort word, staan die sentrumbestuur voor groot uitdagings.

Dit is veral ’n probleem wanneer toiletwater nie vloei nie.

“Ons hoor gerugte dat die rioolaanleg se meganiese infrastruktuur weer vervang moet word en die kans dat riool, soos in die verlede, weer langs die R101-pad sal vloei, maak ons bekommerd.

Geen sakeonderneming wat voedsel verskaf kan hul onderneming sonder water bedryf nie.

Lamprecht pleit dat die regering en plaaslike munisipaliteit hul sokkies moet optrek en dienslewering verbeter sodat die ekonomie ’n kans het om te herstel en sakeondernemings kan oorleef.

“Kragopwekkers is nie noodwendig gebou om voltyds te werk nie. Hoe meer dit gebruik word, hoe meer moet dit gediens word en hoe duurder word dit om te onderhou.”

• Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid, het teen druktyd op sosiale media gesê kontrakteurs is reeds in die proses om hoë kapasiteitkrag-
opwekkers by die dorp se suiweringswerke te installeer sodat inwoners volgehoue watertoevoer tydens kragonderbrekings kan hê.
Gloria Seleka, Bela-Bela-burgemeester, het tydens die voorlegging van die 2022/2023-begroting aan die publiek beloof dat hierdie kragopwekkers kort ná Julie 2022 in werking sou wees.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button