Local news

Handleiding maak musiekteorie maklik

Dit sal ’n jammerte wees as dekades se musiekkennis en -ervaring tot niet gaan.

Die 76-jarige Maretha Hugo van Modimolle het daarom ’n omvattende musiekhandleiding saamgestel om jong musikante te help.

“Ek het jare gelede les gegee vir twee studente in Pretoria wat klei getrap het. Dié twee het my geïnspireer om die werk wat ons gedoen het saam te vat in ’n handleiding en sodoende ook ander studente te help. Die een leerder moes in ’n baie kort tydjie gr. 3-musiekteorie onder die knie kry vir haar klavier-eksamen. Die ander leerder het moeilik en stadig geleer, maar was baie musikaal. Sy moes haar punte hoër kry om keuring by die Pro Arte-kunsskool te kry.”

Hugo het ’n groot liefde vir musiek en het B.Mus aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer.

“My oupa was blind en het klaviere gestem en musiek gekomponeer. My ma het musiekles gegee en in die kerkkoor gesing en my broer is ’n orrelis.”

Sy speel self klavier, blokfluit en dwarsfluit.

Hugo en haar man, Frans, het in 2019 na ’n plaas in die Alma-omgewing verhuis.

Die musiekhandleiding “Music Basics: A Music Theory Teaching Manual” is geskik vir leerders vanaf gr. 4 of tien jaar oud of vir Unisa se gr. 1-3-musiekeksamen. Van die onderwerpe wat behandel word, is tydsoorttekens en groepering, toonsoorttekens en toonlere, majeur- en mineurtoonlere, troontrappe, intervalle, transkripsie, drieklanke en akkoorde en solfa-note. Hugo is besig om die handleiding in Afrikaans te vertaal.

Die boek bied by elke onderwerp ’n verduideliking, oefening en antwoorde.

“Ek hoop dat die handleiding die aanleer van teorie vir musiekleerders sal vergemaklik en hul liefde vir musiek sal aanmoedig,” het sy gesê.

Vir meer inligting, bel vir Hugo by tel. 072 385 9244 of stuur e-pos na hufan@mweb.co.za(.)

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button