Local sport

Pret én vernuf by rolbalklub se sakeliga

Die Warmbad-rolbalklub se sakeliga bars uit sy nate met al hoe meer nuwe spelers vanuit die plaaslike sakesektor wat aansluit en mekaar uitdaag vir ’n plek in die toptien.

Volgens die organiseerders het die liga in September 2022 begin.

Hulle het soveel nuwe belangstelling gekry dat daar sedert Donderdag 9 Maart al alteame 22 rondes gespeel is.

“Die liga is een van die grootste sakeligas in die land en word oor die langste tydperk gespeel. Daar het vanjaar 28 spanne ingeskryf, met ’n totaal van 112 spelers,” het een van die organiseerders gesê.

Die sakeliga bestaan al 12 jaar lank en bied aan plaaslike rolbalspelers die geleentheid om nie net hul sakenetwerk uit te brei nie, maar ook vir ontspanning deel te neem.
Alles gebeur is goeie sportmangees.

Duan Wilkins, Dylan van Rooyen en Anrico van der Schyff van die Bosveld Kwagga-rugbyspan staan vir ’n spanfoto. Die klubbestuur is dankbaar dat meer jongmense deesdae by rolbal betrokke raak.

Die huidige voorlopers van die 2022-2023-seisoen is die Warries Specsavers-span, gevolg deur die Strikers, Rock & Rollers, Bosveld Zebras en Auto Air se span.

“Daar is nog ses wedstryde oor voor die liga in Mei eindig. Ons het al gedink om die wedstryde in die toekoms twee keer per week te speel omdat die speelveld beperk is. Ons het vanjaar vir die eerste keer spelers op ’n waglys geplaas omdat ons nie plek op die baan het nie.”

Na afloop van die sakeliga sal die topsewe- spanne teen die spanne van die Nylstroom-rolbalklub te staan kom.

Die Pos het Donderdag 9 Maart se byeenkoms bygewoon en gedeel in die heerlike atmosfeer wat by die baan geheers het.

Dit is vir die rolbalklubbestuur verblydend dat so baie jongmense by die klub ingeskakel het. Dit verseker die voortbestaan van die klub wat met groot moeite oor die jare opgebou is.

Spelers soos Johan Faber, wat vir die Boschveld-span speel, sê die kompetisie is by elke byeenkoms meer opwindend en die atmosfeer is baie gesellig.

Hy speel al twee jaar lank en sien uit na elke wedstryd, sê hy.

William Fullard van die Landini Rollers het sy kop ’n paar keer geskud terwyl sy spanmaats se pogings om so naby as moontlik aan die witbal te rol, nie so suksesvol was nie. Hulle geniet die samesyn en vriendelike mededinging, het hy gesê.

Die Pos is elke nou en dan gevra om vinnig ’n spanfoto te neem. Die spelers was egter haastig om weer by hul rolballe te kom.

Die baan is in ’n puik toestand en kan nie die skuld dra vir rolballe wat in die sloot beland nie, het van die meer bedrewe spelers laggend gesê. “Ondervinding en vernuf is die ding wat tel.”

Skoolkinders word ongelukkig nie toegelaat om in die liga te speel nie.

Daar is genoeg geriewe op die terrein vir almal om pret te hê en na afloop van die wedstryde saam vleis te braai.

Volgens die bestuur van die klub bedryf hulle ’n kroeg in die klub en spelers is welkom om iets kouds daar te koop om die dors te les.

“Enigiemand mag in die liga speel en spelers word aangemoedig om hul gesinne saam te bring.”

Die liga se laaste wedstryd sal op Dinsdag 9 Mei plaasvind.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button