Local news

Sonkrag: goedkoop kan duur word!

Die installasie van ’n sonkragstelsel is óók nie perdekoop nie.

Diegene wat derduisende rande bestee om die pyn van beurtkrag te verlig, kan hul vingers verbrand as hulle nie deeglik navorsing doen nie, het ’n aantal inwoners uit dure ondervinding vertel.

Gerhardt Breytenbach, ’n prokureur in Modimolle, het bevestig dat hy deur inwoners genader is wat regsaksie wil neem teen installeerders wat nie aan die nodige vereistes voldoen het nie.

Van die grootste probleme wat inwoners ondervind het, was dat daar nie voldoeningsertifikate (COC) uitgereik kon word nie of produkte van swak gehalte of verkeerde spesifikasies geïnstalleer is.

Hennie Blignaut van HP Elektries in Modimolle sê dat hulle gereeld oproepe ontvang om brouwerk reg te maak. “Ons het gevalle gesien waar installeerders swak gehalte produkte gebruik het en die installasies op baie onveilige maniere gedoen is. Dit is baie moeilik om substandaard installasies te herstel.” Hy moedig inwoners aan om seker te maak hulle kry ’n betroubare verskaffer.

“As die installeerder self die voldoeningsertifikaat uitreik, bly hy self verantwoordelik vir die installasie.”

Die voldoeningsertifikaat is nodig vir versekeringsdoeleindes en wanneer die huis verkoop word.

Burt Groenewald van Red Energy beaam dit. “Wees seker dat die produkte wat jou verskaffer gebruik op die langtermyn steeds beskikbaar sal wees. Kyk dat die produkte ook goeie waarborge het soos ’n 25 jaar waarborg vir ’n paneel, tien jaar vir ’n battery en vyf jaar op ’n wisselrigter (inverter).

Met sonkraginstallasies kan goedkoop koop vinnig ’n baie duur koop word, waarsku kenners.

Blignaut noem dat ’n verskaffer in jou eie omgewing vinniger diens kan lewer as probleme opduik, as wat iemand van die stad af moet ry.

Groenewald raai inwoners aan om te vra vir verwysings. “Moenie net vra vir een verwysing nie, vra vir ’n hele paar en doen die moeite om hulle te bel. Verskaffers wat ver is kan nie vinnige 24-uur diens lewer as iets skeefloop nie. ’n Sonkragstelsel is nie soos ’n televisie wat jy koppel en alles werk nie. Wanneer iets skeefloop, het ’n mens tegniese hulp nodig.”

Verskeie banke en versekeraars gee hul kliënte raad oor hoe om ’n verskaffer te kies. Van die vrae wat gevra moet word is:

  • Wat is hulle ervaring en kan hulle verwysings gee?
  • Het hulle gekwalifiseerde elektrisiëns in diens? Vra vir bewys van registrasie.
  • Die installeerder behoort ’n aanduiding te kan gee van die geskatte elektrisiteitsverskaffing van die sisteem in gemiddelde weersomstandighede vir ’n jaar en raad te gee oor die spesifikasies wat nodig is vir elke huishouding se behoefte. Hierdie moet gebaseer wees op ’n besoek aan die terrein.
  • Bied hulle enige na-verkope diens of instandhoudingskontrakte?
  • Bied hulle enige waarborge vir beide die installasie en die verskillende komponente soos die panele, battery en wisselrigter? Vergelyk dit met die vervaardiger se waarborge.
  • Maak seker dat alle kostes vooraf bekend gemaak word.

’n PV Greencard-sertifikaat gee bykomende gemoedsrus. Hierdie inisiatief deur die Suid-Afrikaanse Fotovoltaïese Bedryfsvereniging (Sapvia) poog om ’n databasis van installasies te skep en hoë kwaliteit kleinskaalse sonkrag installasies te verseker.

Andries van der Heyde het in Bela-Bela by ’n paar sakeondernemings gaan uitvind hoe hulle die kragsituasie aanpak.

Heelwat inwoners het gesê hulle verkies steeds om kragopwekkers te tydens beurtkrag te bruik, maar hulle begin dink aan planne om oor te skakel na alternatiese kragbronne.

Die koste bly egter ’n groot kopseer.

Een sakeman het gesê dit is belangrik om deeglike huiswerk deur ’n kenner te laat doen wat eers ’n behoeftebepaling moet doen.

Daarna moet betroubare verskaffers gevind word en die installeerder moet ook geakkrediteer wees om die stelsel korrek te installeer.

Drummond Hammond, voorsitter van die Belabiz-sakekamer, sê hy weet van twee lede van die Waterberg-sakekamer wat nou heeltemal onafhanklik van Eskom funksioneer.

Related Articles

Back to top button