Local news

Bekende ingenieurswerke sluit sy deure

Settlers Ingenieurs- en Sweiswerke het op Vrydag 3 Maart hul deure ná 44 jaar in diens van die boerderygemeenskap gesluit.

Jannie Wolmarans, meer bekend as Jan Wol, het die onderneming dekades gelede begin en was tot nou nog elke dag aan die stuur van sake.

Hy het aan Die Pos gesê sy ouderdom tel nou teen hom en hy kan nie meer sy daaglikse take behartig nie. Hy het voorts gesê die land se voortdurende beurtkrag het boonop sy onderneming ’n gevoelige knou toegedien.

“Ek het in 1978 van Zimbabwe na die ou Warmbad-omgewing gereis om by my pa, oom Wollie, te kom kuier. Ek het op ’n koerantartikel afgekom dat ’n werkswinkel in die Settlers-omgewing te koop was,” vertel Wolmarans.

Die werkswinkel ter sprake was die ou International & McCormic Garage. Die perseel behoort vandag steeds aan die AJ Williams Trust.

“My pa het die werkswinkel van die eienaar, Edwin Wilson, oorgeneem. Ek moes terugkeer na Zimbabwe om my weermagverpligtinge na te kom waarna ek in 1979 na Suid-Afrika geïmmigreer het.”

Wolmarans vertel nadat hy by die werkswinkel ingeval het, het hy en sy kollegas van die eerste “rolmoere” vir boere van die Springbokvlakte gebou en verskaf.

Ander projekte wat uit die werkswinkel se deure gerol het, sluit in sonneblom-stropertafels, skoffels, planters en hul eie gepatenteerde boontjiestropermasjiene wat die Settlers-boere aangeskaf het vir hul boerderye.

Wolmarans en sy oorlede vrou, Christine (bekend as Chinkey), was 60 jaar lank getroud.

Die perseel is intussen verkoop.

“Ek bedank al die Vlakte-boere en gemeenskap wat ons deur dik en dun ondersteun het. Ek sal julle baie mis en nie maklik vergeet nie.”

Related Articles

Back to top button