Schools

Terapie deel van dissiplinêre proses

Hoërskool Warmbad wil vanjaar hul dissiplinêre sake met terapie kombineer.

Die skool beoog om hul beradingsafdeling — The Therapy Shack — in te span om leerders wat as deel van hul straf (soos bepaal deur die skolewet) vir ’n sekere tydperk geskors is, met berading by te staan.

“Om oortreders net huis toe te stuur is nie sinvol nie. Dit verander nie hul gedrag nie,” sê Lourette van Heerden de Swart, die skool se maatskaplike werker. “Ons nuwe program, Ithemba, wat in Zulu “hoop” beteken, gee nou vir hulle die geleentheid en hulp kry om hul gedrag te verander.”

De Swart is reeds 26 jaar by maatskaplike- en beradingswerk betrokke en het baie ervaring van leerders met gedragsprobleme.

Sy sê die gewone dissiplinêre prosesse sal gevolg word en ’n leerder wat ernstige oortredings begaan het, kan nou aangeraai word om by die program in te skakel. Dié leerders moet dan steeds elke dag by die skool aanmeld en by die program hou.

“Ons doen in die oggende groepsterapie om hul emosionele welstand en verhouding met gesagsfigure en skoolmaats te verbeter. Ek behartig tans individuele sessies met oortreders sodat hulle besef hulle is waardevol en kan ’n bydrae lewer. Ons leer hulle vaardighede om met uitdagende omstandighede saam te leef en dit te bowe kom,” sê sy.

“Gedragsprobleme is gewoonlik ’n simptoom van iets anders wat skort. Verslawing is dalk ’n aanduiding dat die kind dalk nie weet hoe om hul emosies te hanteer nie. Mense gebruik dwelms om goed te voel, maar hoe meer iemand gebruik, hoe meer het hulle nodig en dit het ’n sneeubaleffek.”

Die program duur vier weke lank en ’n verslag word na afloop van die program deur De Swart opgestel oor die leerder se vordering.

“Om slegs motiveringspraatjies by skole te hou, is nie altyd die oplossing nie. Ek verkies dit om eerder ’n verhouding met die leerder te bou. Sodra daar vertroue is, raak die wil om te verander groter,” sê sy.

Sy sê daar was tot dusver baie suksesverhale, maar ongelukkig gebeur dit ook dat iemand nie hul gedrag wíl verander nie en lei tot herhalende wangedrag.

“Ons program skep die geleentheid vir leerders om hul gedrag te verbeter en eendag in goeie volwassenes te ontwikkel. Dit bly egter ’n keuse.”

Related Articles

Back to top button