Crime

Ma praat oor wrede moord

“Ek het dit glad nie gesien kom nie. Ek wens ek het betyds by haar uitgekom.”

Carmen Cloete Abrahams (34), ’n inwoner van Bela-Bela, en haar dogter Leigh Cloete (11) is op Saterdag 25 Februarie deur haar gewese kêrel by ’n woonstelblok in Ludorfstraat in die dorp doodgeskiet.

Dié tragiese gebeure het gevolg ondanks die feit dat Carmen twee weke voor die moord ’n beskermingsbevel teen die man aangevra het.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, het Hendrik “Muzi” Ndlovu (38) ongeveer 12:00 by die Leana Hof-woonstelle met ’n vuurwapen opgedaag.

“Die verdagte het vermoedelik sonder om ’n woord te uiter op die vrou en haar dogter losgebrand. Hy het daarna die vuurwapen op homself gerig en sy eie lewe beeïndig,” sê Mojapelo.

Die polisie en nooddienstepersoneel is na die perseel ontbied. Al drie was egter reeds dood.

Vir Carmen se familie was die gebeure uiters traumaties.

“Geweld teenoor vroue en kinders is baie algemeen, maar nou verstaan ek die pyn van slagoffers en die mense wat agtergelaat word, moet deurgaan. Niemand verdien so iets nie,” het Felicity Cloete, Carmen se ma, aan Die Pos gesê. “Ek het dit glad nie gesien kom nie. Ek wens ek het betyds by haar uitgekom.”

Carmen was ’n tuisversorger by SA Medwell wat in mediese tuisversorgingsdienste spesialiseer.

Sy het op haar ma se aandrang ’n rukkie gelede van die Kaap na Bela-Bela verhuis nadat sy en haar man geskei is. Sy en Ndlovu was die afgelope paar maande ’n paartjie, maar die verhouding het gou krake gewys en hy het vroeër vandeesmaand uit haar woonstel getrek.

Carmen het in die Leana Hof-woonstelblok reg langs haar ma gewoon.

Haar twee kinders, Leigh, en haar oudste dogter (15), ’n leerder van Hoërskool Warmbad, het in Desember by hul ma ingetrek.

Felicity sê die rustigheid en stabiliteit wat Bela-Bela bied, was vir Carmen ’n nuwe begin.

“Haar kinders was haar prioriteit. Sy was gewoonlik twee weke by haar werk as tuisversorger en twee weke tuis. Die ure het haar goed gepas. Sy was lief vir mense en het ’n omgee-hart gehad. Sy het daarvan gehou om met mense te werk en het altyd ’n beter lewe vir haarself en haar dogters gesoek. Sy was ’n sterk, avontuurlustige vrou.”

Sy vertel hoe Leigh binne ’n kort tydjie goed by Laerskool Warmbad aangepas het.

“Sy het baie uitgesien na Valentynsdag by die skool en ons het selfs vir haar ’n mooi rokkie gekoop. Leigh was ’n kind met ’n borrelende hart en persoonlikheid. Sy was ons engelkind en het gou in mense se harte gekruip.”

Ndlovu het volgens Felicity vir Eskom gewerk. “Hy het nooit die indruk geskep dat hy gewelddadig is nie, maar hy was ’n jaloerse man wat haar onnodig geteister het — selfs tydens sy werkure nadat hulle uitmekaar is. Carmen wou aanbeweeg,” sê Felicity.

“Hy het haar misbruik in die tyd toe hy by haar gewoon het. Die dag toe hy uiteindelik weggetrek het, het hy die koskaste leeg gemaak en selfs die geyser aangeskakel sodat haar krag-
eenhede aanhou loop. Sy het twee weke voor die skietvoorval ’n beskermingsbevel teen hom gekry.”

Sy sê daar was geen teken dat Ndlovu vir Carmen fisiek mishandel het nie, maar praatjies dat hy ’n getroude man was en kinders by ’n ander vrou het, het Carmen baie ontstel.

“Hy het my eendag gedreig dat hy Carmen se kinders van haar af sal wegneem. Ek het nog gedink hy bedoel deur die hof of deur ’n maatskaplike werker, maar my kind was nie ’n ma wat onbevoeg was nie.”

Op die dag van die voorval was Carmen se oudste dogter (wie se identiteit op versoek weerhou word) by die Bosveld Interhoër in Groblersdal.

“Ons is baie dankbaar vir die hoërskoolpersoneel se optrede. Hulle het haar huis toe gebring en ander mense het ons bystand en terapie gegee wat ons ongelooflik waardeer.”

Felicity sê sy het ook jare gelede ’n seun aan die dood afgestaan.

“Die pad vorentoe is moeilik, maar met die hulp van die Here, die familie en mense wat ons bemoedig sal ons hierdeur kom. Al wat my dogter gesoek het, was iemand wat vir haar lief was en lojaal teenoor haar moes wees.”

“Om deesdae vir ’n beskermingsbevel aansoek te doen, is soos om jou eie doodsvonnis te beteken. Dié wettige dokument moes haar in beginsel beskerm en veiliger laat voel het, maar dit het nie. Hoe kan die owerhede vroue werklik beskerm?”

Carmen en Leigh se begrafnis sal na verwagting later in Kaapstad plaasvind.

Ndlovu se familie het hul nog nie gekontak nie, het Felicity gesê.

Volgens die polisie het die vuurwapen wat in die misdaad gebruik is, glo aan ’n vriend van Ndlovu behoort. Die polisie ondersoek hierdie bewering.

Lt. kol. Annemarie Smith, Bela-Bela polisiespeurtakhoof het teen druktyd bevestig dat ’n man van nalatigheid vir die berging van sy vuurwapen aangekla is, asook vir strafbare
manslag.

Die man verskyn eersdaags in die Bela-Bela-landdroshof.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button