Municipal

Vier munisipale topposisies eersdaags vakant

Vier senior amptenare van die Bela-Bela-munisipaliteit se kontrakte verstryk eersdaags.

Dit kom te midde van talle uitdagings wat belastingbetalers in die gesig staar.

Die dorpsgebied gaan reeds gebuk onder verskeie diensleweringsprobleme waarvan infrastruktuurprobleme, die gebrek aan water, slaggate en Eskom se beurtkrag die inwoners vuisvoos laat.

Die kontrakte van Melvin Marutha (hooffinansiële beampte, Jamela Selapyane (korporatiewe dienste) en Angie Serote (maatskaplike ontwikkeling) eindig in Maart, het Peter Moloto, munisipale woordvoerder, bevestig. Betty Maswanganyi, hoof van tegniese dienste, se kontrak eindig in Julie.

Dié amptenare was sedert 2018 by die munisipaliteit betrokke. Selapyane het onder meer as waarnemende munisipale bestuurder opgetree nadat Sello Makhubela in 2021 as munisipale bestuurder bedank het.

“Die munisipaliteit kan nie hul kontrakte wettig hernu sonder dat daar her-evaluering plaasvind nie. Daar is ’n nuwe regulasie wat bepaal dat die munisipaliteit permanente en bekwame afdelingshoofde kan aanstel wat nie aan ’n kontraktydperk onderhewig is nie,” sê Moloto.

Moloto het gesê hoewel die dorp nie in ’n rooskleurige situasie verkeer nie, is daar nietemin verbeterings op administratiewe vlak.

Die feit dat die ouditeur-generaal (OG) die munisipaliteit ’n beter oudit vir die 2021-2022-boekjaar as vir die voorafgaande jaar gegee het, dui op verbetering, het hy gesê.

“Die munisipaliteit loop nie die gevaar om onder administrasie geplaas te word nie. Hoewel die amptenare wie se kontrakte verstryk sleutelposte in die munisipaliteit beklee, is daar bestuurders wat reeds geruime tyd onder dié afdelingshoofde werk en is strategiese planne in plek.”

Moloto erken dat dienslewering sal moet verbeter.

“Die kragnetwerk kort baie aandag en daar is ’n gebrek aan kundigheid en kapasiteit, al is daar aanspreeklikheidsversekering in plek. Die munisipaliteit is baie afhanklik van kontrakteurs van buite om dringende probleme te herstel,” sê hy.

“Ons sal eerdaags die nuwe kliëntedienssentrum-toepassing bekendstel, want die munisipaliteit streef daarna om die verhouding met die gemeenskap te verbeter. Dit sal reaksietyd en kliëntediens bevorder.”

Die openbare deelname-vergaderings oor die munisipaliteit se begroting sal na verwagting in April plaasvind.

Moloto het gesê die raad sal alles in hul vermoë doen om kundige personeel te werf om die vakante poste te vul.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button