Local sport

Nylies wen prestasiebeker by interhoër

Hoërskool Nylstroom het vanjaar breëbors die prestasiebeker tydens die Bosveld Interhoër huis toe gevat.

Die interhoër is verlede Saterdag (25 Februarie) by Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal gehou waar sewe skole se topatlete mekaar die stryd aangesê het.

Fantastiese atletiek was aan die orde van die dag en Hoërskool Ellisras het vir die vierde opeenvolgende jaar met die louere weggestap.

Die Nylies het algeheel vierde geëindig. Die prestasiebeker word toegeken wanneer skole se leerdergetalle teenoor prestasie in ag geneem word. Dit stel skole van verskillende grotes in staat om op gelyke vlak mee te ding. Dit was egter nie net atlete wat gesweet het nie.

Nylies se trots, Mieke Mienie, het nie net ’n 50 jaar oue verspringrekord verbeter nie, maar ook weggestap met drie goue medaljes in die 100 m, 200 m en verspring vir meisies o.16.

Die sangers en dirigente op die pawiljoen het hulle uit volle bors aangemoedig om hul bes te lewer.

Die Nylies is aangepor danksy hul Formule 1-resiestema “Lat Wiel”. Die dirigente het ’n derde plek gekry en die sangers het ’n tweede plek behaal — kort op die hakke van die wenners, Hoërskool Frikkie Meyer van Thabazimbi.

Tariro Nkosi van Hoërskool Nylstroom het drie goue medaljes gewen nadat sy die ander atlete ore aangesit het in die 100 m, 100 m-hekkies en hoogspring vir meisies o.17.

Van die Nylie-atlete het trots op die podium hul medaljes ontvang. Die uitblinkers was:

  • Ditsego Modishane met drie goue medaljes in die 100 m, 200 m en 400 m vir seuns o.14.
  • Mieke Mienie het ook drie goues gewen in die 100 m, 200 m en verspring vir meisies o.16. Mieke het die 50 jaar oue verspringrekord vir meisies o.16 aan flarde gespring met ’n afstand van 5,48 m — dit is 7 cm verder as die rekord wat in 1973 opgestel is.
  • Tariro Nkosi hang ook drie goue medaljes om haar nek nadat sy skoonskip gemaak het in die 100 m, 100m-hekkies en hoogspring vir meisies o.17.
  • Lindi Loots het ’n goue medalje in die 200 m vir meisies o.19 en silwer medaljes in die 100 m en 400 m gewen.
  • Shirley Maboa het ’n goue medalje in die hoogspring, ’n silwer medalje in die 100 m-hekkies en ’n brons in die 400 m-hekkies vir meisies o.19 gekry.
  • Daniel Briel het silwer medaljes in die 200 m en 400 m vir seuns o.19 verower.
  • Anri Briel het drie bronsmedaljes gewen in die 100 m, 200 m en hoogspring vir meisies o.15.
  • Lindi Loots was die tweede beste senior meisiesatleet en Mieke Mienie was derde. Ditsego Modishane was die tweede beste junior seunsbaanatleet. Daniel Briel was die derde beste senior seuns baan-atleet.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button