Local news

Basta met praatjies oor klimaat — praat liefs oor kraglewering!

Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake het rolspelers genooi om op Sondag 19 Februarie hul sê oor klimaatsverandering te sê tydens ’n openbare deelnamevergadering in die Multi Purpose Centre in die Bela-Bela Township.

Die beoogde nuwe wetsontwerp oor klimaatsverandering het ten doel om ’n werkbare plan in plek te kry om klimaatsverandering aan te spreek.

Nog drie vergaderings word in ander streke van Limpopo beplan.

“Daar is min belangstelling in pogings soos hierdie omdat die meeste kommersiële boere op Sondae in die kerk is en nooit Sondae by politieke projekte betrokke raak nie,” het Henk van de Graaff, TLU Noordstreek-voorsitter en Waterberg DLU-voorsitter, aan Die Pos gesê.

Hy sê die landbousektor is baie bewus van seisoenveranderinge en skryf dit grootliks toe aan globale klimaatverandering.

Klimaatsverandering word veroorsaak deur besoedeling, ontbossing, menslike ontwikkeling en uitbreidings, meen kenners.

“Boere ervaar reeds geruime tyd ongewone veranderings in die seisoene. In een gebied verskil die reënvalpatrone drasties van vorige jare en in ander gedeeltes van die land is daar droogte. Wat laat die departement dink dat ’n klimaatberaad in Bela-Bela die situasie gaan verander?”

Tradisionele boere is volgens hom redelik aanpasbaar wanneer veranderinge in die klimaat plaasvind en poog om oeste ondanks hierdie uitdagings met sukses af te haal.

“Dit is meer logies dat die owerhede ’n beraad hou oor volhoubare krag en infrastruktuur, want boere het dit nodig om kos te produseer en voedselsekuriteit aan landsburgers te verseker.”

Die Pos berig gereeld oor boere in die omgewing wat sê hul werk word belemmer weens Eskom se verlaagde kragtoevoer na landelike gebiede en die verval van die land se nasionale en munisipale paaie.

“Gesprekke oor klimaatsverandering is belangrik, maar die owerhede moet nou liefs fokus op kwessies wat dadelik aandag moet kry om ’n ekonomiese ramp af te weer,” het hy gesê.

Indien mense belangstel in die wetsontwerp kan hulle Tyhileka Madubela, sekretaresse van die parlement se portefeuljekomitee oor bosbou, vissery en omgewingsake, bel by tel. 083 709 8401, of ’n e-pos stuur na tmadubela@parliament.gov.za(.)

Related Articles

Back to top button