Local news

Reën, lieflike reën!

Die Nylrivier loop kant aan wal en die grond is deurnat nadat daar die afgelope week swaar reën oor die Waterberg-omgewing uitgesak het.

Floris Booysen, voorsitter van die Potgietersrus Distrikslandbou-unie, sê daar het die afgelope twee weke tussen 30 en 100 mm op die Springbokvlakte geval.

“Dit het plek-plek gereën. Sommige plekke het 30 mm-reënbuie gehad en ander 70 mm,” het hy gesê.

Ná vier droë weke is die boere baie dankbaar vir die reën wat geval het. “Die reën het op ’n kritieke tyd uitgesak. Daar was heelwat oeste wat afhanklik was van die reën,” het hy gesê.

Daar is sonneblomme op die Springbokvlakte wat reeds blom en ander wat nou geplant word. Die eerstes sal oor sowat ’n maand gestroop word. Daar is ook baie sorghum aangeplant wat begin saad maak het en die katoen is in volle blom. Diegene wat wisselbou toepas, het koring begin aanplant en besproeiingsboere het suikerbone geplant, het Booysen verduidelik.

Volgens Elrita Roos, wat saam met haar man, Bertus, op die Marble Hall-pad boer, het hulle in Januarie net meer as 90 mm se reën gekry, terwyl hulle tot dusver 191 mm vir Februarie gemeet het.

“Ons het reeds meer as die gemiddelde reënval vir die seisoen gehad,” het sy gesê.

Ben Greeff, wat in Modimolle woon, het 191 mm in Desember gemeet, 74 mm in Januarie en 121 mm tot dusver in Februarie aangeteken.

Related Articles

Back to top button