Letters

Brief: Dankie vir ’n gemeenskap wat omgee

’n Mens gaan vêr in die wêreld moet soek om nóg so ’n ondersteunende gemeenskap te kry.

Connie van Wyk, inwoner van Bela-Bela, skryf:

Dit is met oorweldigende dankbaarheid teenoor die gemeenskap van Bela-Bela dat ek my vandag tot die pen wend.

Soos inwoners seker weet het my man, Sakkie, wat aan Alzheimersiekte ly, op Woensdag 8 Februarie laatmiddag op onverklaarbare wyse by ons erf in Moffatstraat uitgekom en ’n onbekende koers ingeslaan.

Ek het dadelik begin soek, maar geweet die dorpsgebied is te groot om alleen te fynkam. Ek het ’n inskrywing en foto van Sakkie op die Jy verdien beter-groep geplaas en ’n beroep op inwoners gedoen om op die uitkyk vir hom te wees.

My foon het bykans onmiddellik begin lui en vriende en vreemdes het hulp aangebied. Gerhard Olivier van die RSRT-buurtwag het dadelik die boodskap na ander veiligheidsgroepe versprei en met sy voertuig begin soek. Die plaaslike polisie was ook gou op die toneel en het gehelp patrollie ry.

JeeDee Cloete het dadelik begin soek en kort voor lank was daar nege privaat voertuie wat die omgewing gefynkam het.

Een van ons vriende het ’n taxibestuurder gevra om te help soek en hy het ander voertuie van die Warmbaths Taxi Association (WATA) opgekommandeer en almal het in die donker gehelp soek.

Die hoë gras en strate wat nie verlig is nie, het die soektog belemmer. Met die geskeduleerde beurtkrag wat om 21:00 in werking sou tree, was daar ’n groter dringendheid om hom betyds op te spoor.

JeeDee het net ná 20:00 ’n stemboodskap op sy groep geplaas en gevra dat alle inwoners uit hul huise moet kom en net die onmiddellike omgewing verken. Ons was van mening dat Sakkie by daardie tyd al moeg sou wees en dalk iewers sou sit om te rus.

Groot was ons blydskap toe Eduan de Beer net ná die versoek vir Sakkie by sy huis in die Roodepoort-omgewing gevind het. Hy was verward, maar ongedeerd.

Hy was veilig tuis net voordat die beurtkrag begin het en het selfs gesê dat hy nou baie lus het vir ’n koppie warm koffie.

Vir die inwoners (vriende, bekendes en onbekendes) wat gehelp soek het en my ondersteun het: ’n Hartlike woord van dank. ’n Mens gaan vêr in die wêreld moet soek om nóg so ’n ondersteunende gemeenskap te kry. Julle is die beste.

Related Articles

Back to top button