Local sport

Wyse gryse stap dat die biesies bewe

Hennie Oosthuizen het op Sondag 12 Februarie sy 97ste verjaarsdag gevier, maar hy is beslis nog nie gereed om stil te sit nie en is nog aktief deel van ’n stapklub in Mookgophong.

Volgens Elriza Pienaar, wat die stapklub vir ouer persone lei, is Hennie ’n voorbeeld vir ander. Van die stappers het Sondag saam met hom sy verjaarsdag gevier. Hy het al verskeie kentekens met sy stappery verwerf en van hulle is geraam en pryk in sy huis.

“Ek bly altyd positief en dink positief en dit hou ’n mens aan die gang”, het Hennie gesê.

“Dit was eers ’n stapklub, maar nou is dit meer van ’n wandelklub,” het hy spottenderwys aan Die Pos gesê.

Die klub bestaan uit 60 lede wat elke Dinsdagaand by die dienssentrum bymekaarkom en elke derde Saterdag van die maand gaan hulle op ’n stapuitstappie in die omgewing.

“Soms braai ons of anders pak ons piekniekmandjies.Die boere waar ons gaan stap, gee ons leiding waar om te stap. Van die klublede wat nou al ouer is, geniet net die buitelug saam met ons,” het sy vertel.

Hulle probeer ook om nie te vêr buite die dorp te ry nie om kostes te bespaar.

“Ons hou daarvan om by Moorddrift te gaan stap en op die plaas Bergkoninkryk naby Modimolle is ook gewild,” het sy gesê.

Hennie en sy vrou Maureen het op 8 November 2022 hulle 75ste huweliksherdenking gevier. Hulle het mekaar by ’n volkspele-byeenkoms ontmoet en is op Escourt in KwaZulu-Natal getroud.

Hulle woon al sedert 1984 in Mookgophong. Maureen is 93 jaar oud en nog steeds ’n huisvrou.

Hennie is aan die voet van die Drakensberg in Winterton gebore en het daar op ’n plaas grootgeword. Hy was ’n skrynwerker en boukontrakteur en is nog steeds lief vir houtwerk.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button