Local news

Vullis vir een, inkomste vir ’n ander

Die vrou wat die groot sak op haar kop tel, is skaars groter as die vrag wat sy dra. Dit is stampvol gepak met leë plastiekbottels.

Die Pos het vandeesweek stilgehou by ’n groep herwinnaars wat Modimolle se strate reeds vroegoggend invaar om vullis te deursoek vir vir blikkies, plastiek en karton voordat die vulllistrokke die swartsakke oplaai.

Twee straatblokke verder knoop George Makwela sy sakke met bottels stewig toe. Sy vrou, Diana, druk bottels plat om nog ’n sak vol te maak.

“Dit is harde werk hierdie. maar ’n man kan darem eet en jou kinders versorg,” sê hy. Hy is trots op wat hulle doen, want dit is werk wat hulle self geskep het.

Dié sakke gaan saam met hom terug huis toe waar hulle dit verder sorteer. Die bottels se plastiekproppe word afgehaal en eenkant gehou terwyl die bottels en blikkies platgedruk word.

Wanneer hulle ’n groot genoeg vrag het, kom haal ’n herwinningsmaatskappy in die dorp dit by hul huis.

Maria Selamolela en Sanet Mokwadi stap soggens deur Modimolle se strate om vullissakke te deursoek vir herwinbare materiaal voordat die vullistrok dit oplaai.

Sanet Mokwadi swaai haar groot rooi sak behendig oor haar skouer sodat sy dit op haar kop kan balanseer. Sy buk om nog ’n sak op te tel. Sy en Maria Selamolela kuier eenstryk deur. Albei die twee klein vroutjies is in hul sestigs en skraal, maar sterk.

Van Boshoffstraat af moet hulle nog meer as 6 km ver na hul huise stap met hul vonds vir die dag. Ook hulle sorteer dit tuis voordat hulle dit aan ’n herwinningsmaatskappy verkoop word. Mokwadi sê sy doen reeds vyf jaar herwinning vir ’n inkomste. Gedurende vakansietye help die jonger kinders ook.

Herwinning in die dorp word tans deur privaat ondernemings behartig. Volgens Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, sal die nuwe vullisterrein naby Drie Hekke ’n groot stoor hê wat herwinde materiaal sal berg. Die terrein sal na verwagting binne die volgende paar maande open.

Volgens die maatskappy Mpact Recycling het die herwinning van PET-bottels soos gaskoeldrank- en waterbottels, die afgelope paar jaar landswyd toegeneem. Die jongste statistiek toon dat 62% van al hierdie bottels herwin word, wat Suid-Afrika bo die wêreldgemiddelde plaas.

Die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingraad (WNNR) raam dat die herwinningsbedryf werksgeleenthede aan sowat 60 000 tot 90 000 informele herwinnaars verskaf.

  • Die herwinnaars vra dat inwoners dit oorweeg om hul plastiekbottels in aparte sakke uit te sit. Dit sal hul werk vergemaklik. Hulle is glo streng met mekaar dat die sakke weer netjies toegeknoop moet word as hulle klaar deursoek het, omdat hulle nie verjaag wil word nie.

Related Articles

Back to top button