Local news

Gifstruik floreer ná nat seisoen

Die struik met sy vrolike rooi en geel blomme laat boere in die Waterberg allermins “dis heerlike lente” sing.

Ná ’n paar besondere nat somers het die lantanastruik, wat dodelik vir vee is, wyd versprei.

“Die probleem is groter as wat baie boere besef, want ná die reën het die verspreiding van hierdie indringerplante ontplof,” het Paul van Deventer van die departement van landbou en landelike ontwikkeling gesê. “Dit bekruip boere, want teen die tyd dat hulle besef daar is ’n probleem, kos dit hulle baie geld om dit uit te roei.”

Dr. Johan Barkhuizen, ’n veearts van Modimolle, beaam dat lantana ’n probleem is en dat hy meer gevalle van vergiftiging behandel.

“Lantana camara bevat ’n lewertoksien wat beeste en, in ’n mindere mate skape en bokke, affekteer. Wanneer die diere dit vreet, kan hul galblase nie saamtrek om gal in die dermkanaal af te skei nie. Die diere toon simptome soortgelyk aan sonbrand: sere, afskilfering van die vel en haarverlies van veral die ongepigmenteerde areas op die liggaam soos die neus, geslagsdele en uiers,” het Barkhuizen verduidelik.

Die diere se slymvliese vertoon ook geel en hulle kan aan hardlywigheid en rumen-stilstand ly.

Die vee word gewoonlik ondersteunend behandel met lewertonikums en geaktiveerde koolstof, anti-inflammatoriese middels en antibiotika.

“Die diere verkies om uit die son te bly en soek skaduwee op. Verder word ’n goeie hooi met lae chlorofilvlakke vir die dieet aangeraai,” het hy gesê.

Ander plante wat ook soortgelyke simptome kan veroorsaak, is die laventelbossie, vuursiektebossie en ganskweek.

Die struik word dikwels in tuine gesien, met tuiniers wat soms nie besef watter groot gif dit is nie. As ’n kategorie 1b-indringerplant mag dit nie in kwekerye verkoop word nie.
Lantana word maklik versprei wanneer voëls die bessies vreet.

Volgens Van Deventer kan die onkruid met baie moeite uitgeroei word.

“Struike wat reeds dik stamme het, kan afgesaag word en die stompe met gif behandel word. Jonger plante kan met blaarbehandeling beheer word,” het hy gesê. “Wanneer dit eers op ’n stuk grond is, moet die boer jaar na jaar sy hand daarop hou om dit te beheer omdat dit so maklik en vinnig versprei.”

Related Articles

Back to top button