Recipes

Bederf jou Valentyn met lekkernye

Bederf jou Valentyn vanjaar sommer reeds van vroegoggend af en neem hom of haar op ’n heerlike reis van verrassende geure en kleure.

Skop die dag af met ’n heerlike Dalgona-koffie en ’n vars gebakte botterbroodjie wat met plaasbotter en konfyt opgedien word. Jou geliefde sal verras wees met die unieke koffie uit Macau en sal dit heel waarskynlik weer wil drink. Dit is maklik om te maak en kan in die yskas gebêre word vir later se gebruik.

’n Geroosterde Italiaanse broodjie met aarbeie, heuning en geklopte room kan ook ’n goeie keuse wees vir ontbyt. Laat jou verbeelding vlerke kry en meng kleure en geure wat sy of haar tone sal laat krul van lekkerte.

Dek die tafel met ’n blou tafeldoek en ’n titsel rooi en maak jou geliefde se gunsteling pizza of wafel vir ’n lekker bederf.

Dek ’n mooi tafel vir die aand en speel met blou geruite lap en voeg ’n titsel rooi, vir die liefde, daarby. Bederf jou geliefde met ’n gunstelinggereg. Dit kan van ’n tuisgemaakte pizza, ’n bord met heerlike kaas, beskuitjies en vrugte of ’n wafel met roomys en esdoringstroop (maple syrup) wees.

Indien jy nie tuis wil eet nie, pak ’n mandjie met allerlei snoepgoed en natuurlik hope sjokolade. Klim ’n koppie uit of kies ’n romantiese plekkie onder ’n boom. Neem sommer ’n paraffienlampie of kerse saam en kuier tot na donker.


Dalgona-koffie en ’n varsgebakte botterbroodjie in die bed sal die dag op die regte noot laat begin.

Resep vir Dalgona-koffie:

  • 2 eetlepels suiker
  • 2 eetlepels kitskoffie
  • 2 eetlepels warm water
  • Warm of koue melk vir opdiening
Metode:
  1. Klop ewe veel hoeveelhede, kitskoffie, suiker en warm water met ’n elektriese klitser totdat dit romerig word.
  2. Voeg dit dan by warm of koue melk en bedien dit in ’n mooi glas of beker.
  3. Strooi ’n bietjie versiersuiker of kakao — net vir die pret — in ’n hartjievorm bo-oor.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button