Local news

’n Vlymskerp mes om jou Valentyn se hart te kwes

Daar is instinktief ’n warm gevoel wat by mans aangewakker word wanneer hulle ’n mooi mes in die hand het.

Dit kan ’n pragtige vleismes wees om ’n bok mee af te slag of ’n skerp knipmes wat biltong in plakkies kan kerf.

Met Valentynsdag om die draai, kan die vroue dalk daaraan dink om Manlief te bederf met ’n spogmes. As dit boonop ’n handgemaakte versamelaarsmes van ’n befaamde veteraanmesmaker soos André Thorburn van Bela-Bela is, sal dit die geliefde se hartsnare roer.

André Thorburn van Bela-Bela vervaardig al 31 jaar lank messe wat uniek en van hoogstaande gehalte is. Sy raad aan mense wat ’n handgemaakte mes wil koop, is om altyd te kyk vir gehalte.

Thorburn is ’n meestermesmaker.

“’n Mens baklei nie met ’n mes in die hand nie. As jy iemand met ’n mes op jou sien afkom, beter jy weghardloop,” het hy met ’n glimlag gesê.

Die Pos het besoek afgelê in dié kunstenaar se netjiese werkwinkel en was verstom oor die verskeidenheid messe.

Hy sê ’n skerp mes is nie net ’n sierraad nie, maar ook ’n handige stuk gereedskap. Sy messe word van hoogstaande kwaliteit staal gemaak en sy vakmanskap is ná 31 jaar as voltydse mesmaker verfyn. Hy is ’n perfeksionis en is nie tevrede met ’n produk wat amper reg is nie; net die beste is goed genoeg.

“’n Mes moet solied wees van die mespunt tot die handvatsel en vir praktiese redes lig in gewig wees. As jy hom oopmaak, moet jy hoendervleis kry,” sê hy.

“Die oomblik wanneer jy ervaar die knipmes het te veel beweging daar waar hy oop-en-toe-maak (bekend as blade play) moet jy weet dit is nie ’n goeie kwaliteit mes nie. Die mes moet homself verkoop. Dit is nie die verkoopsman se gladde tong wat die transaksie moet beklink nie.”

Thorburn woon in Bela-Bela sedert hy 15 jaar oud is en het van jongs af belanggestel in tegniese vakke. Houtwerk was altyd sy gunstelingtydverdryf.

Hy het homself aanvanklik as AGS-pastoor aan die Universiteit van Pretoria bekwaam. Dit was tydens sy bediening in ’n gemeente in Newcastle waar hy vir Roelf Swanepoel ontmoet het en dié hom aan die kuns van mesmakery bekendgestel het.

Thorburn het kort na dié ontmoeting sy gholfstokke verkoop en sy eerste slypmasjien aangeskaf. Hy was twee jaar lank ’n dosent by ’n Bybel-kollege in Cato Ridge voordat hy voltyds messe begin maak het.

“Ek het aansoek gedoen om as lid van die Mesmakers Gilde van Suider-Afrika aanvaar te word en het ’n kursus by ’n mede-gildelid deurloop om die kuns te bemeester. Ek het vir ’n ruk lank vastelemme en knipmesse gemaak.”

Hy het groot sukses behaal op messkoue en sy messe was gou in aanvraag.

Hy is deesdae lid van verskeie internasionale mesmakersgildes en sy messe het verskeie toekennings in Duitsland, Italië en Amerika verower.

Wat sy messe van die kompetisie onderskei, is dat sy knipmesse op koeëllaers (bearings) roteer.

Die soorte staal wat hy gebruik sluit in vlekvrye-, zirconium- en titanium. Zirconium is volgens hom maklik in Suid-Afrika bekombaar. Die hewwe word gepoleer van inheemse houtsoorte, ivoor wat van vlakvarktande afkomstig is, kameelperdbene en selfs eeue oue Mamoet-ivoor.

Thorburn het tans ’n uitsluitlike ooreenkoms met ’n Amerikaanse agent om sy messe in die VSA te verkoop, maar sy produkte is beskikbaar op die webtuiste bladegallery.com(.)

“Ek woon steeds uitstallings in die VSA by en ook die jaarlikse mesmakersgilde-skou in Suid-Afrika. Ons is vanjaar in Augustus by die Kyalami-uitstalsentrum in Johannesburg.”

Hy streef daarna om sy messe in die toptien te hou met die kwaliteit en vakmanskap.

Diegene wat dus so gelukkig is om ’n Thorburn-mes te besit, weet dit is ’n wêreldklas produk.

Vir meer besoek hul webtuiste by andrethorburn.com(.)

Related Articles

Back to top button