Local sport

Broer en suster is spiesgooiers van formaat

Die jong atleet van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, Cara Louw (16), en haar broer, Pieta van Rooyen (21), is veldatlete wat in die toekoms nog groot naam gaan maak in atletiekkringe.

Cara, ’n gr. 11-leerder van die Hansies en Pieta, ’n trotse oud-Hansie, is spiesgooiers wat met verskeie prestasies op die atletiekveld spog.

Pieta neem deel as senior en het aan die Soltech-kampus in Pretoria gereedskapmaker (Millwright) gestudeer. Hy was in 2020 die wenner van die spiesgooi-item vir seuns o.19 by die Bosveld Interhoër en het ook gekwalifiseer vir die Limpopo-span. Die Suid Afrikaanse-kampioenskap is egter in 2020 afgestel weens die Covid-19-pandemie.

Hy het verlede jaar die Limpopo-span verteenwoordig by die Suid-Afrikaanse kampioenskap en ’n vyfde plek behaal. Hy is tans besig om voor te berei vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap.
Cara het as 12-jarige haar eerste spiesgooirekord opgestel. Sy het die volgende jaar weer aan die SA’s deelgeneem en ’n sewende plek verower. Sy het twee jaar opeenvolgend die Limpopo-kampioenskap in haar ouderdomsgroep gewen.

As 14-jarige atleet het sy in die hoërskool die rekords laat tuimel en is sy by meer as een byeenkoms as die atleet van die dag aangewys. Sy het in 2021 twee rekords verbeter en tydens die Bosveld Interhoër ’n allemintige 41,85 m in die meisies o.15 item behaal. Sy was vierde by die SA’s en het haar eie beste prestasie met ’n afstand van 43,63 m verbeter.

Wat Cara se prestasies so merkwaardig maak, is dat sy in Desember 2021 met Ankylosing spondolitis (Hla-b27) gediagnoseer is. Dit is ’n auto-immuunsiekte waar haar eie liggaam haar rugstring, groot werwels en spiere aanval. Dit veroorsaak geweldige pyn. Die siekte stuit haar nie om haar beste op die atletiekbaan te lewer nie. Sy het vanjaar reeds drie rekords verbeter en spog tans met ’n beste afstand van 44,48 m.

“Cara veg nog steeds die stryd teen die siekte. Elke byeenkoms is net genade en ’n wonderwerk en ons is baie trots op haar,” het haar ma, Rinette Louw, aan Die Pos gesê.

Sy is verlede jaar gekies vir die Suid Afrikaanse-kampioenskap in sewekamp. Dit was haar eerste deelname en sy het in die meisies o.18-afdeling meegeding waar sy ’n sewende plek behaal het.

“Die Hansies is baie trots op hierdie atlete en hou hulle vordering met groot opgewondenheid dop,” het Lebu van Heerden, adjunkhoof van sport gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button