Schools

Topmatrikulante en skole vereer

Die Waterberg-distrikmunisipalitit het op Donderdag 2 Februarie tydens ’n toekenningseremonie in die Bela-Bela-township hulde gebring aan die matrieks van 2022.

Die Waterberg-distrik se uitslae was die tweede beste in Limpopo met ’n slaagsyfer van 77,5%. Die Mogalakwena-distrik was eerste met ’n slaagsyfer van 78,3%.

Die Waterberg-distrik bestaan uit nege onderwyskringe. Volgens die departement het 3 291 uit die 4 244 matriekkandidate wat ingeskryf het hul finale eksamen geslaag.

Die Ellisras-kring, wat ’n 94%-slaagsyfer behaal het, het die beste in die Waterberg-distrik presteer. Dwaalboom was tweede (87,8%), derde Nylstroom (84,5%), vierde Naboomspruit (83,1%), gevolg deur Thabazimbi (80,7%), Warmbad (78,7%), Vaalwater (73%), Palala Suid (64,1%) en Palala Noord (63.5%).

Rinus de Jager, Hoërskool Hans Strijdom se skoolhoof, spog met die skool se distrikstoekenning vir ’n 100%-slaagsyfer in 2022 behaal. Saam met hom is Josephine Gumede (Waterberg-distrikmunisipaliteit) en Thabitha Modise (Lephalale-munisipaliteit).

Twee skole in die Bela-Bela-sektor, Vingerkraal Secondary High School (16 matrieks) en Ulando Combined School (20 matrieks), het uitgestaan. Albei skole het ’n 100%-slaagsyfer behaal in die afdeling vir skole met minder as 50 leerders.

Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi se 154 matrieks het almal geslaag en Hoërskool Hans Strijdom (111 matrieks) in Mookgophong het ook vanjaar ’n 100% slaagsyfer behaal.

Hoërskool Frikkie Meyer het die meeste matrieks gehad (121 uit 154) wat met vrystelling vir ’n graadkursus geslaag het. Hoërskool Ellisras (82 uit 117) was kort op hul hakke en Hoërskool Nylstroom (78 uit 117) was derde.

Winnie Mafora, skoolhoof van Vingerkraal Secondary School, word vereer vir haar skool se 100%-slaagsyfer in die afdeling vir skole met minder as 50 leerders. Josephine Gumede van die Waterberg-distrikmunisipaliteit en Thabitha Modise, raadslid van Lephalale-munisipaliteit, oorhandig haar toekenning.

Dit was vir die Nylies ’n eer toe een van hul onderwysers, Kosie de Jager, ’n beste onderwyser-toekenning ontvang het. Sy matriekgroep in wiskundige geletterdheid (65 in totaal) het almal geslaag.

Hoërskool Warmbad was breëbors toe van hul matrieks as beste vakpresteerders aangekondig is. Marijke Vosloo het 93% vir rekeningkunde en 94% vir fisiese wetenskap behaal en Bernice Reichl het 88% vir rekenaartoepassingstegnologie gekry.

Uit Hoërskool Hans Strijdom het Magda du Preez 90% behaal in Engels (Eerste Addisionele Taal).

Khomotso Selema van Hoërskool Nylstroom in Modimolle het die beste gevaar in Afrikaans (Eerste Addisionele Taal) met 89%.

Kosie de Jager, Hoërskool Nylstroom-onderwyser, ontvang ’n toekenning nadat al sy leerders in wiskundige geletterdheid in 2022 geslaag het. Nelly Zikhali (speaker van die Bela-Bela-munisipaliteit) en Simon Morumudi (administratiewe beampte in die Waterberg-distrikmunisipaliteit) oorhandig sy toekenning.

Twee leerders van Phagameng High School in Modimolle, Chauke Obakeng en Cathrine Ndlovu, het onderskeidelik die toekennings vir die beste prestasie in geskiedenis (90%) en lewensoriëntering (100%) verwerf. Mpho Maako, ook van Phagameng, is vereer vir sy prestasie in wiskundige geletterdheid (93%).

Settlers Agricultural High School spog met Mathlatse Makgopa en Tersia Toromedi Mashilo wat die toppresteerders met 85% in Sepedi en Engels (Home Language) was.

Leerders van Bela-Bela wat ook vakpryse gewen het, was Wendy Makhobela van Bela-Bela High School vir Xitsonga (82%), Mahlatse Kobe van Raeleng Secondary School vir toerisme (96%) en David Matlhatse van Maope High School het met 98% die ekonomie-prys gewen.

Die toptien leerders was Marijke Vosloo (Hoërskool Warmbad), Magdelyn van Heerden (Hoërskool Frikkie Meyer), Sabrina Teixeira Ferreira (Hoërskool Frikkie Meyer), Cara Pieterse (Hoërskool Frikkie Meyer), Modise Tshepang (Tielelo Secondary School), Frances de Jonge (Hoërskool Warmbad), Oratile Marakalala (Hoërskool Ellisras), SJ van der Linde (Hoërskool Frikkie Meyer), Khomotso Selema (Hoërskool Nylstroom) en Samuel Maluse Thabang (Phagameng High School).

Die finale toekennings het gesorg vir baie opgewondenheid.

Die topvyf presteerders is elk met ’n splinternuwe skootrekenaar en tablet beloon wat natuurlik baie handig te pas sal kom in hul verdere studies

Related Articles

Back to top button