Municipal

Gemeenskapsvergadering wyd verwelkom

"Ons dorp se infrastruktuur is op die punt van ineenstorting. Dit is nou tyd dat die munisipaliteit na ons begin luister." — JeeDee Cloete

Daar heers ’n vars bries van hoop onder Bela-Bela-inwoners na afloop van Vrydag 27 Januarie se gemeenskapsvergadering by die El Rancho Grande-oord buite Bela-Bela.

Talle inwoners het tydens die vergadering hul bereidwilligheid verklaar om by te dra tot die herstel van die dorp.

“Julle het nie na dié vergadering gekom om te kom kla nie. Julle het gekom om te vra: Hoe gaan ons van hierdie punt af te werk om dienslewering te verbeter?” het Jeedee Cloete, Wyk 1-VF Plus-raadslid, wat die vergadering belê het, aan die begin van die vergadering gesê.

“Ons dorp se infrastruktuur is op die punt van ineenstorting. Dit is nou tyd dat die munisipaliteit na ons begin luister.”

Die aanhoudende gebrek aan krag en water was die hoofbesprekingspunte op die vergadering.

Volgens Cloete is die dorp se suiweringsaanleg ontwerp om vyf megaliter water binne ’n 20 uur siklus te suiwer. Tydens beurtkrag word daar dus geen gesuiwerde water na die reservoirs gepomp nie. Die aanvraag na gesuiwerde water oorskry die water wat in reservoirs opgegaar word. Dit lei tot kritieke lae watervlakke en die munisipaliteit word genoop om die krane toe te draai, het Cloete gesê.

“Die Bela-Bela-munisipaliteit het begroot vir kragopwekkers om die waterinfrastruktuur operasioneel te hou tydens kragonderbrekings. Die beoogde kragopwekkers sal waarskynlik eers in Mei in werking wees,” het Cloete gesê.

Hy het gesê daar is R4,9 miljoen vir die aankoop van die kragopwekkers bewillig en dit word deur die regering befonds.

Die Pos verneem dat brandstofkostes, waarvoor die munisipaliteit nie begroot het nie, uit die munisipaliteit se operasionele begroting betaal moet word.

Cloete het voorts gesê daar is reeds ’n bestaande hoë-kapasiteitkragopwekker na die dorpsdam verskuif om water na die suiweringsaanleg te pomp. Ongelukkig is daar nog min vordering gemaak om kragopwekkers in plek te kry om water vanaf die suiweringsaanleg na die reservoirs te pomp.

Bela-Bela-inwoners is keelvol vir die aanhoudende gebrek aan dienslewering in Bela-Bela.

Hy voer aan dat die munisipaliteit toestemming verleen het dat stelsels deur middel van privaatbefondsing daargestel kan word om die reservoirvlakke daagliks te moniteer.

“Inwoners is ook vies oor verkeerde lesings op hul watermeters omdat die meters bly draai maar daar net lug in die pype is. Hy het gevra dat inwoners rekord moet hou van lesings en klagtes moet aanmeld. Daar is tydens die vergadering klem gelê op munisipale beleid en prosedures. “Sodra ’n klagte aangemeld word, het die munisipaliteit sewe dae tyd om foute reg te stel. Daardie beleid moet afgedwing word,” het hy gesê.

Alle klagtes moet aangemeld en ook na lede van die Wyk 1-komitee gestuur word. Indien daar nie binne die gegewe tydperk opgetree word nie, kan die verantwoordelike afdelingshoof aanspreeklik gehou word. Skade wat gely is nadat klagtes aangemeld en foute nie herstel is nie, kan volgens hom in baie gevalle van die betrokke afdelingshoof verhaal word.

Cloete het gevra dat alle klagte na ’n vasgestelde e-pos-adres gestuur word en rekord van tekortkominge en terugvoer gehou word.

Hoe meer klagtes op skrif is, hoe sterker saak kan teen die munisipaliteit gebou word. Dit sal dan bepaal watter amptenare hul werk ernstig opneem en wie belastingbetalers mislei, het hy gesê.

Die dorp se nuwe begroting word in die volgende paar maande bekendgemaak. Cloete het inwoners aangemoedig om beswaar te maak teen verhoogde belastingverhogings en swak dienslewering.

Hy het ten slotte gesê die dorp se probleme kan nie binne ’n dag opgelos word nie. Hy het gevra dat inwoners nie net moet kla nie, maar ook moet help om oplossings vir probleme te vind.

“Ons kort almal se samewerking. Stel klagtes op skrif en stuur dit per e-pos aan my sodat ons die amptenary vir elke stap verantwoordelik en aanspreeklik kan hou.”

• Die e-posadres vir klagtes is wyk1-klagtes@gmail.com(.)

Related Articles

Back to top button