Local news

Familie deel huldeblyk vir Eksteen-egpaar

Jarelange en geliefde inwoners van Bela-Bela, Oos Eksteen (93) en sy vrou, Lucille (89), is binne enkele maande van mekaar aan natuurlike oorsake oorlede.

Lucille is op 4 Augustus verlede jaar by die egpaar se woning in Olienhoutpark oorlede. Oos is verlede Sondag 22 Januarie in die Warmbad Rusoord-tehuis vir bejaardes, waar hy intussen gewoon het, oorlede.

Die egpaar het 35 jaar lank in Delmas gewoon, maar was die afgelope 22 jaar inwoners van Bela-Bela.

Oos was ’n weermagoffisier en Lucille ’n ontvangsdame — die “kantoortannie” — by Hoërskool Delmas voordat hulle afgetree het.

In die huldeblyk wat Dewald Eksteen, hul seun, namens die familie aan Die Pos gestuur het, sê hy die familie is dankbaar vir die voorreg om goue herinneringe saam met hul ouers te kon opbou.

Sy familie en vriende het Oos beskryf as ’n man wat lief was vir God, sy land, mense, sy vrou en kinders.

Lucille was ’n vrou wat in alle opsigte haar vrouwees gevier het. Almal was altyd welkom by die Eksteens.

“Saam kon hulle ’n oormag stormloop en volhard in alles wat hulle aangepak het. Ons pa was baie weg van die huis, maar nooit afwesig of afsydig teenoor ons familie se behoeftes en soeke na aandag en liefde nie,” lui die huldeblyk.

“Pa was ’n trotse soldaat wat sy uniform met waardigheid gedra het. Ma het die leisels in die huishouding, saam met haar werk en buitemuurse aktiwiteite, bymekaar gehou. Hulle het aan verskeie gemeenskapsorganisasies behoort. Dit het hulle in ons oë ’n gesiene man en vrou van die dorp gemaak, maar vir hulle was dit slegs belangrik om hul medemens te dien.”

Die egpaar het in die depressiejare grootgeword en swaarkry geken, maar dit het hul karakters versterk.

“My ouers het, met hul foute en al, bygedra daartoe om hierdie pragtige land van ons te bou. Die media het van die woord patriarg ’n skelwoord gemaak, maar ons pa het die mooi betekenis van die woord in praktyk uitgeleef — soos wat die Bybel dit vir ons leer. Daarvan kan hul getroude lewe van langer as 69 jaar getuig.”

Dewald het gesê dit was vir die familie moeilik om te sien hoe die jare aanstap en hul ouers se kragte minder word.

“Die troos wat ons het, is dat hulle ’n goeie leeftyd saam met ons op aarde geniet het en nou in God se paleis woon; sonder kwale en ouderdomskwale. Dit wat vir ons almal bestem is, troos ons verder dat ons mekaar weer daar sal raakloop.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button