Letters

Brief: Aanstellings by munisipaliteite moet hersien word

Daar sal met nuwe oë gekyk moet word na aanstellingskriteria van hoof- finansiële beamptes.

Susan Clark, VF Plus-raadslid: Capricorn-distriksmunisipaliteit, skryf:

Die inhegtenisneming van die hoof- finansiële beampte van die Nkumpi-plaaslike munisipaliteit (Lebowakgomo, Zebediela) op aanklagte van beweerde tenderbedrog, is ’n duidelike aanduiding dat aanstellingskriteria vir hoof- finansiële beamptes by munisipaliteite hersien moet word.

Luidens onlangse berigte is Khomotso Grace Manka verlede Saterdag in Polokwane (Pietersburg) op aanklagte van tenderbedrog in hegtenis geneem.

Sy het na bewering ’n sakeman omkoopgeld gevra om ’n tender aan sy maatskappy toe te ken. Die sakeman het dit by die Valke aangemeld en sy is in hegtenis geneem.

Manka sou op Woensdag 1 Februarie as hoof- finansiële beampte by die Capricorn-distriksmunisipaliteit begin werk het. Dié munisipaliteit is nou weer sonder die dienste van ’n hoof- finansiële beampte wat beteken dienslewering sal onder die aangeleentheid ly.

Daar sal met nuwe oë gekyk moet word na aanstellingskriteria van hoof- finansiële beamptes.

Daar moet weggedoen word met die ANC se uitgediende beleid van kaderontplooiing, regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

Aanstellings moet op meriete geskied ongeag velkleur en in die beste belang van inwoners. Onder die ANC sal hierdie doelwit nie bereik word nie.

Die inwoners van die Capricorn-distriksmunisipaliteit verdien beter as die ANC.

Related Articles

Back to top button