Local news

Ma en dogter maak harte en hande oop

"Die opkoms was só goed dat ons dit verder wou uitbrei.”

Twee vroue van Mookgophong wat ’n passie vir mense het, het met die idee vorendag gekom om inwoners, en veral mense wat behoeftig is, by te staan met hul projek “Van die gemeenskap aan die gemeenskap”.

Dorette Nel en haar ma, Elsa, het ’n paar maande gelede die behoeftes van sommige inwoners raakgesien en toe met die idee vorendag gekom om’n kos-uitruilskema te begin. Dit was Elsa se innoverende plan. Die twee vroue het eers net in Gholfpark, waar hulle woon, begin met die uitruilskema.

“Ons het mense gevra om die kos in hul kaste wat hulle nie gebruik nie, vir ons te bring en te ruil vir wat hulle nodig het. Ons het op Dinsdag 17 Januarie met ’n klein stalletjie voor ons huis begin. Die opkoms was só goed dat ons dit verder wou uitbrei,” het Dorette vertel.

Hulle het die inwoners ook genader om enige oortollige huisware te bring of te skenk. Behoeftige gesinne is geïdentifiseer en ook gehelp. Sy sê hul fokus graag op die behoeftes van dié gesinne se kinders. Hulle kon 40 geskenkpakkies opmaak en uitdeel as Kersgeskenke vir die kinders.

Die vroue het ook ’n potjiekos-uitreik gehou vir die bejaardes van die dorp en sê hulle sien uit om sommer gou weer interaksie met die oues van dae te hê.

Hulle het begin Januarie ’n suksesvolle skryfbehoeftesprojek geloods en is tans besig om pakkies met badkamerbenodigdhede te versamel en uit te deel aan tieners wat hulp nodig het.

“Ek sal graag hande wil vat met ander organisasies sodat ons meer mense kan help, veral met voedsame kos.

“Sommige mense het nie iets om te ruil nie, maar is steeds welkom by ons uitreik,” het Dorette gesê.

Boere in die omgewing het ook van hul oortollige groente geskenk, wat uitgedeel is aan die gemeenskap.

Dorette het voorheen tuisonderig gegee, maar nou is haar droom om die konsep van saai en maai ook na naburige dorpe uit te brei.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button