Schools

Nylie-toppresteerders reg vir studentelewe

Die lang wag is uiteindelik verby!

Hoërskool Nylstroom se matriekleerders van 2022 het op Vrydag 20 Januarie vir oulaas by die skoolhek ingestap om hul matriekuitslae en -sertifikate te ontvang.

Die skool spog met ’n slaagsyfer van 97,4% met slegs drie van die 117 leerders wat nie geslaag het nie.

Die groep het altesame 51 A-simbole bymekaar gemaak, asook 142 B-simbole en 182 C-simbole. Daar het 78 leerders (68%) geslaag met toelating tot ’n B-graad, 33 (29%) met toelating tot diplomastudies en drie (3%) met toelating tot sertifikaatstudies.

Elné Joubert het ook vyf onderskeidings in die matriekeksamen behaal.

Die skool se twee topstudente was Khomotso Selema en Elné Joubert.

Khomotso het vyf onderskeidings behaal: Afrikaans (First Additional Language), rekeningkunde, lewenswetenskap, fisiese wetenskap en lewensoriëntering. Haar gemiddeld was 84,3%. Sy het ’n onderskeiding in wiskunde rakelings misgeloop met ’n persentasie van 79% en Engels (Huistaal) met 75%. Khomotso so kop staan na die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg toe waar sy aanvaar is om B.Com te studeer.

“Om suksesvol te wees, moet jy in jou eie vermoë glo. As jy hard werk, sal jy jou drome bereik. Onthou om God altyd eerste te plaas,” was haar raad aan vanjaar se matrieks.

Elné Joubert het ook vyf onderskeidings behaal in Afrikaans (Huistaal), Engels (Eerste Addisionele Taal), rekeningkunde, lewenswetenskap en lewensoriëntering. Haar gemiddeld was 82,9%. Sy het ook ’n onderskeiding in wiskunde naelskraaps gemis met ’n persentasie van 79% en in fisiese wetenskap het sy 76% behaal.

Elné gaan vanjaar bedryfsielkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer.

“Baie dankie aan Hoërskool Nylstroom vir die onvergeetlike tyd wat ek hier kon deurbring. Moet nooit jou skool as vanselfsprekend aanvaar nie,” het sy gesê.

Die volgende leerders het elk drie onderskeidings behaal: Danielle Goncalves (met vier B-simbole), Lee-Ann van Deventer, Karabo Chisi en Anika Holtzhausen.

Related Articles

Back to top button