Local news

Sonnige sonneblomme heet Waterberg-besoekers welkom

Die vrolike geel gesigte van sonneblomme het besoekers aan Modimolle die afgelope vakansie begroet.

Die brug naby die ingang na die dorp vanaf die Kranskop-tolhek is einde verlede jaar opgekikker deur vrywilligers van die gemeenskapsforum Aksie Opknap.

Talle hande het gehelp met die voorbereiding van die brug. Die sonneblomme is die handewerk van kunstenaar Minie van der Sandt (79), wat ure lank die son en reënweer trotseer het op die smal sypaadjies langs die besige pad.

“Dit was so lekker as voetgangers opgewonde kommentaar lewer oor die blomme. Daar het selfs besoekers in die middel van die pad stilgehou om te sê dat die brug baie mooi lyk. Hulle was vol komplimente vir die dorp en inwoners se pogings om dit mooi te laat lyk,” het sy vertel.

Mede-aksieopknappers Henna Nothnagel en Annette Vosloo het eet- en drinkgoed aangedra en haar ondersteun.

Aksie Opknap is bekend onder inwoners van die dorp as ’n groep mense met ’n groot droom om die agteruitgang van die dorp te stuit. Een van die lede, Erna Human, sê hulle is baie dankbaar vir al die individue en sakelui wat help om die dorp in stand te hou.

“Dis voorwaar ’n spanpoging. Sonder hulle hulp sou ons nie al hierdie projekte kon aanpak nie. Van die inwoners versorg die parkies en inwoners en sakelui sorg dat die gras op die middelmanne naby die hoërskool kort bly. Ons het ook mooi beddings by die ingange na die dorp en oorkant die ModiMall-sentrum gemaak. Daar is ’n hele aantal projekte aangepak,” het sy gesê.

Hulle werk ook saam met die burgemeester, Marlene van Staden, raadslid Wiets Botes en van die munisipaliteit se werkers.

Inwoners wat nie groot projekte kan aanpak nie, maar wel ’n bydrae wil lewer, is welkom om ’n finansiële skenking in die forum se rekening te maak.

Die volgende projek wat die groep aanpak, is die vestiging van ’n tuin oorkant die brandweerstasie. Skenkings van waterwysplante is welkom.

Vir meer inligting, bel vir Human by tel. 082 348 6925.


  • Die volgende ondernemings en individue verskaf groot hulp met die opknappings: Koinonia-gemeente (Boshoffstraat se parkie), Evangelies Gereformeerde-gemeente (parkie naby Spar), Fokus Deo-gemeente (sny saam met Louise Zietsman gras by Hagenstraatparkie en herstel slaggate), Waterberg Toyota (skenk gereeld teer vir slaggate, asook verf vir die brug), Megs (herstel baie slaggate), Pavecon (skenk plaveisel en klippe), Derric Rabie (hou die eiland oorkant Hoërskool Nylstroom netjies), Limpopo Lawnmowers (sny gras), Build It (herstel Kerkstraat se slaggate), Bernie Haumch (stel TLB beskikbaar), Hennie Steffen (skenk gif) en Ernest Dayy (spuit onkruiddoder by die brandweerstasie), asook Adolf en Sarie van den Berg (betrokke by die vul van slaggate).

Related Articles

Back to top button