Letters

Brief: Goeie dinge kom mettertyd

Boeta, was hierdie manne die wag werd!

Santie Gildenhuys, Modimolle, skryf:

Die oomblik is amper te groot om in te neem.

Ek besef opnuut dat goeie dinge wrintiewaar met tyd kom.

Nie eens ekstra geld (A few dollars more), ’n geheime ontmoeting (I’ll meet you at midnight) óf spesiale kontakte (Living next door to Alice) kon help om die Britse rockgroep Smokie vroeër as Desember 2022 in Suid-Afrika te kry nie.

Ons wag immers al sedert 2020 dat hierdie immergewilde groep hul pad vir die 12de keer kon terugvind. Hulle moes die toer telkemale weens Covid-19 uitstel.

Maar boeta, was hierdie manne die wag werd!

Hulle bly maar net die meesters van kitaar- en dromspel. Ons dreunsing saam met meesleurende lirieke wat sedert kleintyd in ons gene vasgelê is. Soveel nostalgie, soveel samehorigheid.

Smokie is almal se gemene deler vanaand.

Hulle hou ons harte en emosies gevange. Ons sit meestal op die punte van ons stoele, maar by tye spring ons op om nog hartliker saam te sing en te dans. “Oh Carol, you got me eatin’ my heart away” het almal op die voete gehad.

Op een na is die groep (nes die meerderheid van hul bewonderaars) ook nie meer vandag se kinders nie. Die groep het oor die jare van lede verwissel, maar hulle klank het oor die afgelope 45 jaar dieselfde gebly.

Is dit nie maar ook wat die lewe elke dag van ons verwag nie? Om te aanvaar dat ons skaterlagtrane dikwels in ’n oogwink in krokodiltrane kan verander. Om steeds te sorg dat ons siel in ritme bly; al beteken dit dat ons uit die bloute by ’n wildvreemde deuntjie moet aanpas.

Ons het ’n week of wat gelede oor die drumpel van ’n splinternuwe jaar getree. Dalk laat Smokie ons met ’n paar wenke.

Pantser jouself betyds teen 2023 se uitdagings (Needles and Pins), koester kosbare verhoudings (Lay back in the arms of someone) en onthou altyd dat jou gesindheid uiteindelik jou koers bepaal.

Related Articles

Back to top button