Home & Garden

Handgemaak of tweedehands vir Kersfees 2022

Om die geskikte Kersgeskenk te kry kan baie uitdagend en soms baie duur wees. Vir my Kerskouse vir 2022 het ek besluit dat oulike “tweedehandse” geskenke of tuisgemaakte geskenke die beste opsie is.

Vanjaar is meeste van ons se beursies redelik plat vanweë die stygende brandstofpryse, hoë rentekoerse en die stygende lewenskoste in die algemeen.

Daar is in elke dorp pandjieswinkels met pragtige gebruiksartikels wat nog splinternuut lyk maar dit verg egter tyd en baie snuffel om die regte geskenk te kry.

Pak ’n houtkassie met jou vriend of vriendin se gunsteling lekkernye.

Indien die gesnuffel nie vir jou is nie, kan jy jou eie geskenke maak. Mans is altyd in hulle skik met heerlike tuisgebakte koekies of lekkers. Dit is veel goedkoper as die wat jy op die rak koop en dit bewys dat jy jou hart in die spesiale geskenk gesit het. Daar is ook baie plaaslike entrepreneurs wat bak en jy kan hulle gerus ondersteun.

Maak dit sommer ’n projek en verf ’n ou stoel met krytverf, plaas ’n pot met ’n mooi plant daarop en gee dit as geskenk. Die ontvanger sal beslis ’n plekkie kry wat hul wil opvrolik. As jy hou van bak, bak ’n lekker brood, draai dit toe en versier dit met ’n rooi lint. Dit kan ook sommer deel van die ontvanger se Kersete word.

Bak koekies of maak lekkers en pak dit in ’n “tweedehandse” bord.

Heerlike tuisgemaakte lekkers of koekies kan in ’n mooi “tweedehandse” bord gepak word en die ontvanger kan in die toekoms weer fyngebak daarop bedien. Indien jy kreatief wil wees, koop ’n mandjie of hout kassie en pak dit vol met jou vriendin of vriend se gunsteling lekkernye. Die kassie kan jy verf of sommer net so hou. ’n Lekker koek wat mooi versier is, sal altyd welkom wees en kan as nagereg of by middagtee bedien word.

Verf ’n ou stoel met krytverf, sit ’n mooi potplant op en gee dit vir jou hartsvriendin vir Kersfees.

As jy wil en kennis dra van die tegniek, maak vir elke vrou ’n hangertjie van hars en gebruik wat jy het om dit nog meer spesiaal te maak.

Een van die geheime van geskenke is die toedraai daarvan. Doen moeite daarmee en die gaste sal baie in hulle skik wees. Kersgeskenke kom met liefde, gebruik die geleentheid om dit te wys.
Geseënde Kersfees 2022.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button