Travel

Vakansiepret is volop in Modi-omgewing

Daar is volop geleentheid vir pret en plesier in die Modimolle-omgewing gedurende dié skoolvakansie.

Vir gesinne wat die buitelewe geniet en saans gesellig om ’n hardekoolvuur wil kuier, is die Weesgerus-vakansieoord of die Modimolle Holiday Resort die ideale familie-wegbreekplek.

Die Weesgerus-oord, wat op ’n stuk grond van 58 ha gebou is, bied verblyf aan meer as 1000 mense met 130 kampplekke en 88 selfsorgkothuise. Daar is drie blinkblou buitelug swembaddens met een verhitte onderdakswembad. Die glybane verskaf ure se waterpret saam met minigholf, tennis-, vlugbal- en jukskeibane asook trapkarre. Die jongspan word daagliks tussen 10:00 en 14:00 vermaak met prettige aktiwiteite by die swembad en daarna word daar raakrugby en aksiekrieket op die groen grasperk gespeel.

Die vakansie-vermaaklikheidsprogram bied iets vir oud en jonk, van Bingo-aande tot langarmsokkies. Daar is ’n verskeidenheid sangers wat sal optree met ’n gewyde Kerssangkonsert op Saterdag 24 Desember.

Daar is vanjaar ook interessante praatjies wat deur ’n sterrekundige, Anton Louw, aangebied word. Na afloop van die praatjie word gaste genooi na ’n bring-en-braai wat deur die oord gereël word.

Die restaurant op die perseel bied smaaklike wegneemetes met ’n reeks mengeldrankies by die kroeg. Vir gaste se gerief is daar ’n klein supermark op die perseel.

Theresa van Staden, oordbestuurder wat al 23 jaar daar werk, het aan Die Pos vertel dat hulle vanaf die eerste week van Desember vol bespreek is tot die skool weer in Januarie open.

“Weesgerus fokus op families en ons ervaring toon gaste verwag ’n skoon en netjiese omgewing en verblyf, saam met lekker aktiwiteite om die kinders bedags besig te hou. Die kinders se veiligheid is vir ons uiters belangrik. Gedurende die skoolvakansie is daar bykomende personeel met noodhulpopleiding wat om die swembaddens diens doen,” het sy gesê.

Die veiligheid op die res van die oord word ook noukeurig bestuur sodat gaste met gemoedsrus kan ontspan.

Sy vertel dat hulle ’n spesialis in die Kaap het wat die daaglikse swembadlesings, wat drie maal per dag deur toegewyde werkers geneem word, analiseer en daarvolgens die toediening van bymiddels bepaal.

As deel van hul besprekingsvorm is daar ’n uitgebreide lys van besienswaardighede in die omgewing wat onder gaste se aandag gebring word.

“Ons gesels gereeld met gaste en verneem dat hulle graag die klere- en geskenkwinkels in die dorp ondersteun. Gaste besoek ook graag die krokodilplaas, jagluiperd- en olifantsentrums. Vir die meer avontuurlustiges is daar ’n “zip line” waar ’n mens hoog bo die boomtoppe van een platform na ’n volgende gly. Daar is ook visvang en kleiduifskiet in die omgewing,” het sy vertel.

Paartjies wat graag ’n romantiese wegbreek in dieWaterberg wil geniet, kan uit ’n wye verskeidenheid luukse lodges, wildreservate of boetiekhotelle kies.

Shangri-La Country Hotel & Spa, is ’n gewilde opsie met 49 gerieflike kamers in ’n prentjiemooi, subtropiese tuin. Gaste kan langs die swembad met drankies ontspan om die rustigheid in te drink en te vergeet van die stad se gejaag. Die vrolike getjirp van voëls en kabbelende waterpoele skep ’n verkwikkende atmosfeer.

Die luukse binnenshuiseversiering, wat onlangs opgeknap is, herinner aan die hangende tuine van Babilon en die eksotiese Morrocan Room-restaurant bied ’n uitgebreide spyskaart. Soggens word ’n smaaklike buffet ontbyt bedien waarna gaste kan ontspan met ’n romantiese paartjie-massering by die spa.

Die restaurant is oop vir lede van die publiek maar dit is raadsaam om vooraf plek te bespreek.

Related Articles

Back to top button