Schools

Hoofseun begin nuwe tradisie by Euphorbia

Die Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in Mookgophong se hoofseun van 2022, Luwellen van Dyk, wou graag iets aan sy laerskool agter laat wanneer sy graadgroep in 2023 hoërskool toe gaan.

Hy het besluit dat ’n nuwe tradisie by die skool net die regte ding sal wees om te doen.

Hy het volgens sy trotse ouers, Willem en Lollie van Dyk, self met die idee vorendag gekom om ’n kloklui-seremonie by dié skool in te stel. Die gr.7-leerders van 2022 is die eerste groep om hul laerskoolloopbane met hierdie gebaar af te sluit en die gr.1-groep van 2023 sal die eerste wees om hul skoolloopbaan só te begin.

“Een ding wat ek wel vanjaar as hoofseun geleer het, is dat leierskap ’n werkwoord en nie net ’n posisie is nie. Met dit in gedagte het ek aan die kloklui-seremonie gedink,” het hy gesê. Hy het aan elke ander gr.7-leerder ’n klein klokkie gegee met die aanhaling van Paulo Coelho: “As jy braaf genoeg is om totsiens te sê, sal die lewe jou groet met ’n nuwe hallo.”

Die lui van die klok simboliseer vir hom die begin of einde van ’n tydperk, dit vier mense en belangrike gebeurtenisse, herdenk oomblikke van vreugde, is ’n oproep tot orde en impliseer dat jy geroep is. Dit is ook ’n bewys dat die leerders vreugdevol en dankbaar is oor dit wat verby is en dit wat voorlê. Dit roep leerders tot orde en beteken dat as die klok lui leerders gedissiplineerd sal wees.

“Om geroep te wees beteken dat ons ’n taak het om te vervul en dat ons nie sal skroom om daardie taak aan te pak nie. Dit beteken elkeen van ons is belangrik en vier ons menswees en ek sal graag wil hê dat die klok elke keer gelui sal word as daar ’n belangrike gebeurtenis plaasvind,” het hy gesê.

“Die kloklui-seremonie bring ’n gevoel van samehorigheid, dit skep die platvorm vir lewenslange herinneringe, dit dui op dankbaarheid vir wat geleer is tydens ’n seker tydperk, om maar net ’n paar te noem.”

Anél Pretorius, skoolhoof, het Luwellen bedank vir die onbaatsugtige geskenk en tradisie wat hy by die Forbies begin het. “Dit is voorwaar iets om op trots te voel.”

Related Articles

Back to top button