Municipal

Bela-Bela se reservoirs wéér leeg weens beurtkrag

Bela-Bela-inwoners is moedeloos oor die watertoevoer wat telkens tydens beurtkrag opgeskort word.

Hoewel die munisipaliteit die afgelope week kennisgewings uitgestuur het, het dit nie die gemoedere laat kalmeer nie.

Inwoners het tussen September en Oktober behoorlik deurgeloop met fase 5- en 6-beurtkrag. Die reservoirs het in hierdie tyd leeggeloop omdat die aanvraag na water hoog was. Die omgewing het buitengewone hoë temperature beleef.

Die water word vanaf die dorpsdam gepomp na die suiweringsaanleg voordat dit in die reservoirs gepomp word en eers dan aan inwoners verskaf word. Wanneer lang beurtkrag ondervind word, word die aanvraag groter as dit wat reeds gesuiwer is en in die reservoir geberg word, het Die Pos vroeër berig.

Die suiweringsproses neem ongeveer 60 tot 90 minute om die siklus te voltooi en die skoon water in reservoirs te pomp. Die munisipaliteit draai om 12:00 die toevoerkraan toe en dit word eers om 17:00 geopen. Die water vloei dan in die stelsel. Inwoners in hoogliggende gedeeltes van die dorp is raadop omdat hulle soms tot 18:30 moet wag vir water.

Teen druktyd vandeesweek het fase 2-beurtkrag gegeld.

Die munisipaliteit het in November uiteindelik ’n tender gepubliseer vir hoë kapasiteit kragopwekkers om die waterinfrastruktuur tydens kragonderbrekings aan die gang te hou.

Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid, voorspel egter dat hierdie kragopwekkers waarskynlik eers in 2023 ontvang sal word.

“Aansoeke om te tender het verlede week gesluit. Aansoeke sal binnekort geëvalueer word, maar ek kan met sekerheid sê dat ons nie voor Februarie 2023 hierdie kragopwekkers sal ontvang nie,” het Cloete gesê.

Peter Moloto, munisipale woordvoerder, sê die rede hiervoor is dat hoewel ’n tender toegestaan word aan ’n maatskappy, die meeste maatskappye teen Donderdag 15 Desember sluit en eers hul kontraktuele verpligtinge in die nuwe jaar hervat.

“Die munisipaliteit het intussen besluit om alle munisipale boorgate op te gradeer. Enige beurtkrag bo fase 3 skep probleme. Wanneer die kragtoevoer herstel word, kan ons die boorgate se water na die reservoirs pomp.”

Hulle plan is om die munisipale boorgate — wat sedert Maart 2020 nie in ’n werkende toestand is nie — met krag toe te rus.

Cloete het gesê die ekstra boorgatwater sal die leemte aanvul en help om die reservoirs vinniger vol te maak. Hierdie projek word egter ook negatief beïnvloed tydens beurtkrag.

“Daar is hierdie week tydens die tegniese komitee-vergadering ’n aanbeveling gemaak om kragopwekkers vir tyd en wyl te huur, maar dit is baie duur en sal die munisipaliteit se skuldlas verhoog.”

Hoewel die munisipaliteit nie tans enige waterbeperkings ingestel het nie, maan hulle inwoners nogtans om water uiters spaarsamig te gebruik.

Related Articles

Back to top button