Local news

Brenner-meule wag angstig op antwoorde

Daar is nog geen uitsluitsel oor die toekoms van die bekende Brenner-meule in Bela-Bela nie.

Volgens die meule se bestuur is die buitensporige hoë kragtariewe waarteen hulle gehef word, nie haalbaar nie. Die Pos het in ’n vorige uitgawe berig daar is ’n moontlikheid dat die meule sy deure permanent sluit en dat sowat 70 werknemers hul werk kan verloor.

Johan Mills, DA-raadslid, het die bestuur enkele maande gelede gehelp om ’n dokument op te stel om aan die Bela-Bela-munisipaliteit te oorhandig. Die munisipaliteit het op Donderdag 27 Oktober per e-pos erkenning van ontvangs gestuur.

In die dokument wat aan die munisipaliteit gerig was het die bestuur van Brenner-meule dit duidelik gestel dat hulle nie die hoë tariewe kan bekostig nie en hulle vra vir ’n vergunning om die tariewe volgens ’n glyskaal te bereken. Hul maandelikse rekening beloop tans ongeveer R500 000.

Die saak is na die munisipaliteit se subkomitee vir transformasie, munisipale bestuur, begrotings- en tesourie vir beslissing verwys.

“Ons het met hulle ontmoet en ons saak gestel. Mills het sy bes probeer en ons saak met dringendheid aangespreek,” het Barries Barnard, Brenner-meule se groepsbestuurder, by navraag gesê.

“Ons moet nou die munisipaliteit die geleentheid gee om te beraadslaag. Ons hoop om gou positiewe terugvoer te kry.”

Barnard sê hulle het steeds ’n goeie verhouding met hul werkers. Selfs die werkers se unie het begrip vir die situasie waarin die meule homself tans bevind.

“Ons kan egter nie tot Mei 2023 vir ’n antwoord wag nie. Die bal is nou in die munisipaliteit se hande.”

Related Articles

Back to top button