Entertainment

Fees sorg vir gesellige samesyn, pret en musiek

Meer as 2 000 mense het verlede naweek na die Weesgerus-vakansieoord buite Modimolle gestroom om te deel in die naweek se heerlike feesprogram.

Die gewilde vakansieoord kon weer hul jaarlikse fees hou nadat dit die afgelope twee jaar weens grendeltyd nie kon plaasvind nie.

Die fees word deur ’n uiters ervare en bekwame span gereël. Theresa van Staden (bestuurder van die oord) werk al 23 jaar by Weesgerus en het saam met Jean-nimie Eyssell gesorg dat die aktiwiteite vlot verloop. Billy van Rooyen (hoof van bemarking en terreine) en Piet Mpedi (terreinbestuurder met 25 jaar diens) het verseker dat alles op die terrein in orde is met welige grasperke en helderblou swembaddens.

Volgens die oord is daar 1 000 naweekbesoekers in die kothuise en kampeerterrein gehuisves. Die hoogtepunt was die verskeidenheidsprogram wat op Saterdag 26 November gehou is en deur meer as 1100 besoekers bygewoon is. Die Vrydagaand se Bosbraai met Blackie Swart het gesorg vir voetejeuk-musiek ondanks dreigende onweerswolke.

Hier slaan die manne van die Lynx-span hul hakke in tydens die toutrekkompetisie. Ongelukkig het die Spoegkobras met die wentrofee weggestap.

Daar is vroegoggend afgeskop met ’n fiksheidsuitdaging by die hindernisbaan. Atlete van alle ouderdomme het gespook dat die sweet spat om trekker- en motorbande en sandsakke te verskuif.

Koos Henning, organiseerder hiervan, het aan Die Pos gesê die samewerking tussen die spanlede, fiksheid en tegniek het die deurslag gegee. The Conquerors van BU Fitness (Modimolle) met een vrou en drie mans was die wenspan. Henning Fitness se span, met vier vroue, was die welverdiende naaswenners.

Capital Air van Gauteng het heeldag besoekers op pretvlugte geneem om die Weesgerus-vakansieoord en omgewing vanuit die lug te aanskou. Hul het die media toegelaat om ook ’n vinnige draai te vlieg. Die Pos se joernalis, Sarita Kriek-Vosloo (bo), het dit terdeë geniet en haar lof uitgespreek oor die vaardige vlieënier se sagte landing.

Die toutrekkompetisie het heelwat toeskouers gelok wat die spanne met oorgawe aangemoedig het. Die eerste vriendskaplike toutrek was tussen Weesgerus se personeel en ’n span van Jumas Sekuriteit wat dié dag op die oord aan diens was. Die Weesgerusspan het onder luide applous gewen. Daarna het twee mans en twee vroue spanne ook meegeding.

Die sterkste manne en vroue het hul spiere later die middag gebult met die armdrukkompetisie langs die verhoog. Daarna het die professionele armdrukkers vir almal gewys hoe dit nou eintlik gedoen moet word.

Mnr. en Mej. Weesgerus is tydens ’n modeparade gekroon. Peet Loretz en Anoeska Marais het met die gesogte titels weggestap. Zencoe Woller en Bradley Engelbrech was naaswenners saam met Wilmarie Leite en Jenna-lee van Wyk.

Theunis Victor, ’n plaaslike slangkenner en -vanger van Modimolle, het ’n uiters giftige wipneuskobra saamgebring tydens sy leersame praatjie oor slange.

Danny Doman, voorheen ’n finalis van die Mnr. Suid-Afrika-wedstryd, het as seremoniemeester opgetree met Marlene de Villiers, Romi Kriel en Megan Horak du Preez as die beoordelaars.

Die polsende country-musiek van die Galway Girls en Diversity-lyndansers het heelwat belangstellendes na die verhoog gelok. Hulle dansafrigter, Corné Janse van Vuuren, het baie ure ingesit om te verseker almal is fiks en gereed vir die fees.

Die jongspan kon saam met Dienkie en Doedels sing en dans en meer leer oor kleure, getalle, boelies en om hul tande elke dag te borsel en nooit rommel rond te strooi nie.

Theunis Victor het ’n baie insiggewende praatjie gelewer oor die giftige slange wat in die Waterberg voorkom soos die Mosambiekse spoegkobra, wipneuskobra en pofadder. Victor het ’n klomp kinders wat in die voorste ry op die grasperk gesit het, die skrik op die lyf gejaag toe die onskadelike molslang vinnig in hul rigting begin seil het.

Die tientalle stalletjies onder die koeltebome het saam met vrolike gazebos ’n feestelike atmosfeer geskep. Daar was iets wat in elkeen se smaak sou val van pap en kaiings, boepensbroodjies, aartappelstokkies, deegworsies tot hamburgers. Vir die soettand was daar natuurlik pannekoek, mini-oliebolle, fudge en ’n verskeidenheid snoepgoed. Die koffiestalletjie en biertuin het ook goeie aftrek gekry.

Oud en jonk kon hul vernuf toets by die “paintball”-stalletjie terwyl die kleuters heeldag op die springkasteel kon speel. Daar was ook klere, skoene, juwele, potplante, speelgoed en geskenke te koop.

Related Articles

Back to top button