Crime

‘Huiskopers’ beroof bejaarde egpaar van Bela-Bela

’n Bejaarde egpaar van Bela-Bela was die afgelope week die slagoffers van rowers wat hulself as huiskopers voorgedoen het.

Dit het in die verlede ook in die dorp gebeur dat potensiële kopers huiseienaars onder valse voorwendsels nader.

Die egpaar, wie se name om veiligheidsredes weerhou word, het op Saterdag 19 November ’n besoek by hul woning in Kretzschmarlaan ontvang van ’n man en vrou. Die afspraak is vooraf gereël en bevestig. Die egpaar se huis is in die mark en hulle het om persoonlike redes besluit om nie van ’n eiendomsagentskap gebruik te maak nie.

“Die besoek het toevallig tydens die geskeduleerde Eskom-beurtkrag plaasgevind. Die vrou het die egpaar gevra om hul badkamer te gebruik en het kort daarna weer by die groep aangesluit. Skielik was daar twee ander mense in die huis en hulle het die egpaar aangehou,” het lt.kol. Annemarie Smith, speurtakhoof, gesê.

Die egpaar is vasgebind waarna die rowers die huis deursoek en met juwele op die vlug geslaan het. Die polisie stel nog ondersoek in of daar ander items vermis word.

Die egpaar het daarin geslaag om hulself los te wikkel en die polisie is ontbied. Hulle was erg geskok, maar ongedeerd.

“Sover ons weet het die verdagtes ’n vuurwapen en ’n mes by hulle gehad waarmee hulle die egpaar aangehou het.”

Smith meen hoewel hierdie soort misdrywe lanklaas plaasgevind het, is dit waarskynlik dat die verdagtes die omgewing geruime tyd dopgehou het op soek na sagte teikens.

“Baie mense raak opgewonde om sulke transaksies deurgevoer te kry en dan kyk hulle die gevaartekens mis. Dit is steeds veiliger om eiendomstransaksies deur agentskappe te doen. Agente is opgelei om op die uitkyk te wees vir verdagte transaksies.”

Smith sê inwoners moet bedag wees daarop dat hierdie soort misdaad nie net met ouer mense gebeur nie, maar alle huisbewoners kan slagoffers word.

Die ondersoek duur voort.

  • Die Bela-Bela-polisie se aanklagkantoor kan gekontak word by tel. (014) 736 9760/1 of tel. 079 889 5614.Kol. Abel Phetla, polisiestasiebevelvoerder, kan bereik word by tel. 082 565 8512, lt. kol. Piet Maswanganyi (sigbare polisiëringbevelvoerder), by tel. 082 414 2704, lt. kol. Annemarie Smith (speurtakhoof) by tel. 082 319 9336 of AO Johan Momberg (sektorbeampte) by tel. 082 729 0259.

    Vir die RSRT-buurtwag bel vir Gerhard Olivier by tel. 079 527 9988.

    Chris Esterhuizen (GPF-voorsitter) kan bereik word by tel. 082 807 7933.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button