Schools

Beurtkrag plaas ’n donker demper op matrikulante

Die matriekklas van 2022 sal sekerlik eendag tydens hul skoolreünie kan vertel hoe die Covid-19-pandemie hul hoërskoolloopbaan op sy kop gedraai het en hoe die land in hul matriekjaar die ergste beurtkrag-skedule ooit ervaar het.

Leerders en personeel gaan daagliks gebuk onder die uitdagings wat Eskom-beurtkrag bring.

Nie net word leerders gestrem in hul voorbereiding vir hierdie belangrike eksamen nie, maar skole ervaar logistieke probleme wanneer beurtkrag in werking tree.

Chrisna van der Walt, hoof van Academia Private School in Bela-Bela, sê dit is vir die skool ’n kopseer om rekenaarstudies aan te bied. Die elektroniese toerusting word beskadig met die stroom wat wissel en leerders het net ’n beperkte tyd om vraestelle af te handel en hul antwoorde te druk. Met beurtkrag is dit nie moontlik nie. Sy sê die skool se administrasie word ook gekniehalter deur die baie beurtkrag.

“Ons het ’n kragopwekker gekoop en het ook baie geld bestee aan ’n kragomsetter (inverter) sodat die kantoortoerusting en Wifi-sein ten minste kan werk. Ons grootste probleem is egter as die munisipaliteit die watertoevoer ook opskort omdat die reservoir se watervlakke nie aangevul kan word as daar beurtkrag is nie.”

Die Academia-personeel moet drinkwater koop en toilette word met emmers water gespoel. ’n Watertenk is onlangs teen ekstra koste by die skool opgerig.

Van der Walt sê die skool het ook al skade gelei weens krane wat nie toegedraai is aan die einde van ’n skooldag nie. Baie water word só vermors.

Liezl Grobler, onderhoof van Laerskool Warmbad, het in reaksie gesê beurtkrag knou nie noodwendig hul leerders se akademie nie en die skool probeer hul bes om by die beurtkragskedule in te skakel.

“Om ons skoolgeleenthede tydens beurtkrag aan te bied, is egter ’n uitdaging. Dit kos baie geld om ’n kragopwekker vir so lank te laat werk.”

Sy sê die skool word finansieel baie konserwatief bestuur om al hul verpligtinge met die beskikbare fondse na te kom. Bykomende uitgawes soos brandstof vir kragopwekkers is soms nie haalbaar nie.

Alminda Bacchioni, Hoërskool Warmbad-bemarker, sê die matriekgroep het hul onlangse rekenaartoepassingstegnologie-eksamen (RTT) met die hulp van ’n kragopwekker voltooi.

Afrikaanssprekende matrieks het volgens haar ook ander uitdagings in die RTT-teorie-eksamen gehad omdat dit uitdagend is om die vraestel in Afrikaans te beantwoord as die vakterme beter bekend in Engels is.

Die leerders het ook gesê dat die wiskunde-vraestelle albei moeilik was. Hulle het ook ’n tekenfout in die tweede vraestel se trigonometrie-afdeling gehad wat dit onmoontlik gemaak het om die vraag van sewe punte te antwoord.

Daar word tans nasionaal ondersoek hieroor gedoen.

In vakke soos geografie waar leerders van video’s op die internet afhanklik is, het beurtkrag hulle ook belemmer.

“Ek dink net dit is baie moeilik vir die leerders om saans te studeer as daar nie krag is nie. Daar is baie faktore wat vanjaar se algehele slaagsyfer sal beïnvloed waarvan berutrkag beslis een is,” het Bacchioni gesê.

  • Inwoners van Bela-Bela is tans ook warm onder die kraag omdat hulle daagliks onderbrekings in die watertoevoer ervaar. Volgens die munisipaliteit veroorsaak beurtkrag dat daar nie genoeg water gesuiwer word om aan die dorp se behoeftes te voldoen nie. As voorsorgmaatreël word die toevoerkrane vroeg al toegedraai en eers om 17:00 weer oopgemaak.Een van die groot kopsere wat sakelui ondervind, is toilette wat nie kan spoel nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button