Local news

Modi-kliniek onbepaald gesluit

Inwoners van Modimolle moes verdwaas omdraai by die departement van gesondheid se kliniek in Kerkstraat, langs die plaaslike munisipaliteit, nadat dit oornag gesluit is.

Die kennisgewing van die departement van gesondheid wat teen die toegangshek opgeplak is, stel die publiek in kennis dat die kliniek op Dinsdag 1 November in opdrag van die departement van arbeid gesluit moes word. Inwoners moet voortaan die kliniek in Chaukestraat (skuins agter die Ephraim Mogale-stadion) in die Phagameng-township besoek vir mediese dienste. Inwoners wat maandeliks chroniese medikasie afhaal moet nou by die FH Odendaal-hospitaal in Bergstraat 146 gaan aanklop.

Die Pos het ’n week later foto’s geneem by die verlate gebou wat deur twee veiligheidswagte beman word. Teen die glasvoordeur is ’n amptelike brief opgeplak wat op Maandag 31 Oktober deur die departement van arbeid uitgereik is. (met verwysing na: die gewysigde Health & Safety Act, act 85 of 1993).

Die brief verbied toegang tot die gebou omdat dit glo gesondheids- en veiligheidsrisiko’s vir die personeel en lede van die publiek inhou. Daar word aangevoer dat die gebou telkens tydens reënbuie onderwater is. Daar word ook genoem dat die water wat bo in die plafon versamel, die bedrading beskadig het wat moontlik kan lei tot elektriese kortsluitings.

Só lyk ’n vertrek in die kliniek nadat personeel dit inderhaas op Dinsdag 1 November moes ontruim.

Binne-in die gebou lyk dit asof die verpleegpersoneel inderhaas daar weg is. Die voorraadkamer, waarvan die deur nie meer kan sluit nie, is nog vol voorraad.

Die ergste waterskade is binne-in die drie konsultasiekamers waar strome water duidelik deur die plafon lek wanneer dit reën. Geel en rooi dromme (wat eintlik gebruik word vir mediese afval) staan orals op die vloer om die water op te vang. Daar is hier en daar gate in die plafon gemaak sodat die water kon uitloop (in die dromme) en nie die hele plafon in duie laat stort nie.

Van buite af is die waterskade en jarelange verwaarlosing aan die noordekant van die gebou duidelik sigbaar. Die binnekant van die dak se oorhang is plek-plek pikswart gevlek soos dit oor ’n lang tydperk deur water beskadig is. Die geute is orals deurgeroes en by ander gedeeltes is daar nie meer geute nie. Palmbome, wat reg langs die gebou geplant is, se sade verstop ook die geute wat bydra tot die probleem.

Dit wil voorkom asof die departement van openbare werke, wat verantwoordelik is vir die instandhouding van alle staatsgeboue, geen onderhoud in die laaste dekade gedoen het nie.

Die provinsiale departement van gesondheid was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button