Municipal

Bestuurder laat die koppe rol

Die spreekwoord lui: nuwe besems vee skoon, en dit is beslis wat besig is om in die Modimolle-Mookgophong- munisipaliteit te gebeur.

Ben Ntoampe Thobela, wat op Maandag 29 Augustus vanjaar as bestuurshoof van die munisipaliteit aangestel is, het behoorlik die koppe laat rol toe hy binne ’n week twee direkteure en twee bestuurders geskors het vir beweerde onreëlmatige betalings van bykans R10 miljoen.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester, is daar tydens die spesiale raadsvergadering op Maandag 14 November in Modimolle besluit om twee direkteure, dr. Shepherd Malusi
Mhlanga en Christopher Mahlaule, te skors.

Mhlanga, hoof-  finansiële beampte (direkteur), is geskors hangende ’n ondersoek na onreëlmatige betalings aan kontrakteurs wat hy glo op Vrydag 29 April 2022 goedgekeur het sonder die waarnemende bestuurshoof se goedkeuring. Mhlanga was voorheen die hoof- finansiële uitvoerende beampte, maar het vanaf 30 Mei 2019 as munisipale bestuurder waargeneem tot hy na afloop van die munisipale verkiesing op 1 November 2021 uit die kussings gelig is.

Die ANC-raadslede het ’n nuwe waarnemende bestuurder, Dakalo Sinthumule, verkies, maar sy het kort daarna in April vanjaar bedank. Haar opvolger, Magda Berrange, het die pos vir vier maande behartig totdat Thobela einde Augustus aangestel is.

Christopher Mahlaule, direkteur tegniese dienste, is ook geskors oor dieselfde betalings wat vanuit ’n voorwaardelike munisipale-toelaag (MIG) gemaak is. Hy is verder oor die kole gehaal vir die swak prestasie van die kontrakteurs wat aangestel is vir die voltooiing van twee paaieprojekte in Phagameng Uitbreiding 10 wat tot op hede onvoltooid is.

Volgens ’n mediaverklaring het Thobela (nuwe munisipale bestuurshoof) op Donderdag 10 November vir Ali Langa, waarnemende uitgawebestuurder, asook Salthiel Ramthlakgwe, bestuurder van die projekbestuurseenheid (PMU), geskors. Albei is geskors hangende ’n ondersoek na betalings wat op Vrydag 29 April 2022 aan kontrakteurs gemaak is vir die paaieprojekte in Phagameng.

Langa is in Februarie vanjaar as waarnemende bestuurder aangestel nadat Sherly Matlala Moloko geskors is oor beweerde korrupsie en omkopery. Die plaaslike owerheid het egter die saak teen haar verloor en sy was in Junie weer terug in haar pos.

Dit is na afloop van hierdie skorsings op Donderdag 10 November dat Thobela dreigemente ontvang het van ’n onbekende persoon. Hy het intussen ’n saak by die Suid-Afrikaanse Polisiediens geopen.

“Dit is nie die eerste keer dat intimidasietaktiek tydens dissiplinêre optrede by ons munisipaliteit ingespan word nie. Dit kan nie geduld word nie,” het Van Staden gesê.

Sy het die hoop uitgespreek dat hierdie sterk optrede sal help om ’n kultuur van aanspreeklikheid by die munisipaliteit te kweek.

  • Die Pos het vroeër vanjaar berig oor die aanval op Magda Berrange wat op daardie tydstip waargeneem het as bestuurshoof. Sy is vroegoggend op Vrydag 27 Mei in haar kantoor deur ’n gemaskerde man oor die kop geslaan en bewusteloos agtergelaat. Daar is gerugte dat hierdie voorval moontlik verband hou met dieselfde onreëlmatige betalings wat nou tot die skorsing van vier senior amptenare gelei het.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button