Crime

Winkeldiewe loop hul rieme styf

Vyf winkeldiewe het hul rieme lelik styfgeloop toe hulle glo op Donderdag 3 November goedere ter waarde van etlike duisende rande by ’n hardewarewinkel in Modimolle probeer buit het.

Die voorval het helder oordag plaasgevind toe drie mans en twee vroue net voor 12:00 by De Villiers Hardeware ingestap en voorgegee het om inkopies te doen. Terwyl twee die winkelassistent se aandag afgetrek het, het die ander glo rolle elektriese bedrading vasgelê. Volgens inligting het ’n medepligtige vermoedlik buite in ’n wit Ford Figo met GP-registrasienommer, gesit en wag.

Werknemers het een van die verdagte vroue herken van ’n vorige winkeldiefstal ’n paar weke vantevore. Hulle het dadelik die winkeleienaar, Jaco de Villiers, in kennis gestel. Nadat die twee verdagte vroue, albei geklee in lang rokke, die winkel verlaat het, het De Villiers, die winkel se voordeur gesluit met twee van die mans steeds binne.

Elrica Swanepoel, ’n werknemer, het die plaaslike polisiestasie gebel en hulp ontbied.

Volgens Fanie Pretorius, speurder en operasionele bestuurder van Jumas-sekuriteit, het De Villiers hom gebel omdat die polisie glo nie ’n voertuig tot hul beskikking gehad het om na die winkel te kom nie. Pretorius en een van sy kollegas was binne enkele minute op die toneel. Daar het die veiligheidswag hulle ingelig dat De Villiers besig was om die drie verdagtes, wat op vlug geslaan het, te voet te agtervolg waar hulle met die hoofstraat (Nelson Mandelastraat) in die rigting van die nywerheidsgebied gestap het.

Pretorius en sy kollega het in die hoofstraat afgery en die drie verdagtes op die brug by MeatRite opgespoor. Daar is flink opgetree en die vermeende dief is saam met die twee vroue aan die een kant van die brug vasgetrek.

Jumas-sekuriteit se reaksie-eenheid is omstreeks 13:00 ontbied om die drie verdagtes na die winkel terug te neem vir ondervraging. Volgens Pretorius het die polisie eers teen 14:20 opgedaag om al vyf verdagtes na die stasie te neem. Die drie mans is onderskeidelik 31, 34 en 41 jaar oud terwyl die twee vroue 41 en 48 jaar oud is. Almal is Suid-Afrikaanse burgers.

AO James Findlay, polisieverteenwoordiger, het bevestig dat al vyf skuld erken het en die gesteelde goedere terugbesorg is. Nadat hulle boetes betaal het, is hul vrygelaat. Hulle sal voortaan ’n kriminele rekord vir winkeldiefstal hê. Die betrokke voertuig wat deur die diewe gebruik is, is volgens die polisie nie ’n gesteelde voertuig nie.

Die Pos het kringtelevisiemateriaal gesien waar dieselfde groep vermoedelik ook dieselfde winkel op Dinsdag 13 September besteel het. Hulle is nie van hierdie misdaad aangekla nie. De Villiers het aan Die Pos gesê hy het intussen bykomende veiligheidsmaatreëls in plek gestel om toekomstige diefstal te voorkom.

Die plaaslike polisie waarsku winkeleienaars en inwoners om ekstra bedag te wees en hul veiligheidsmaatreëls op te skerp, want voorvalle van georganiseerde misdaad en diefstal neem teen die einde van die jaar skerp toe.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button