Crime

Booswigte wag gretig op Kersseisoen

Booswigte slyp oudergewoonte hul tande vir die Kersseisoen.

Die jongste misdaadsyfers van die Bela-Bela-polisiestasie dui daarop dat diefstal en inbrake aan die toeneem is. Dit sluit in diefstal van munisipale eiendom soos straatligkomponente.

Die polisie vermoed dat gierigheid, werkloosheid en dwelmverslawing bydra tot dié soort misdaad. Volgens die polisie is die meeste van dié oortreders ou kalante wat reeds voorheen met hierdie soort misdaad verbind is.

Die wet vereis voorwaardes vir die verkoop van skroot en tweedehandse artikels.

“Sakeondernemings wat met tweedehandse items handel dryf, moet ’n spesifieke handselslisensie daarvoor hê. Indien die eienaar vuilspel vermoed wanneer goedere aan hulle gebied word, moet die owerhede in daarvan kennis gestel word,” het Leon Grobler van Grobbies Scrapyard by navraag aan Die Pos gesê.

“Natuurlik word die verkoper se details geneem. Daar word ook ’n afskrif van elke verkoper se ID op rekord gehou met ’n beskrywing van alle artikels wat die verkoper reeds verkoop het. Tog gebeur dit steeds dat gesteelde goedere verkoop word.”

Hy is van mening dat sindikate hulle toespits op kragkabels, transformators, voertuigonderdele en pompe. Die dwelmgebruikers en inwoners wat om finansiële oorlewing spook, bring kleiner items wat soms gesteel is in om te verkoop.

“Skroot- en tweedehandse handelaars moet meer met mekaar in verbinding tree oor items wat ontvang word en die identiteit van verkopers bekendmaak. Gesteelde munisipale infrastruktuur behoort net soveel aan die inwoners as die munisipaliteit. Inwoners behoort sake van diefstal by die polisie te open.”

Volgens die polisie verbied die wet skrootwerwe om metale op hul persele te smelt en dan weg te voer.

Die metaalsoorte, en die handel daarvan, wat landwyd streng beheer word sluit in staal, sinkplaat, koper, aluminium en platinum.

Die polisie se grootste kopseer is om getuies te kry wat ’n persoon met ’n spesifieke diefstal verbind.

“Mense is geneig om sekere mense te beskuldig van diefstal op grond van hul gedrag en gewoontes (dwelmverslaafdes). Soms word mense onskuldig betrek en dit veroorsaak ’n groot verleentheid vir die persoon wat iemand vals beskuldig en baie ure gaan verlore in die ondersoek omdat die polisie op ’n dwaalspoor gebring is,” het lt.kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-speurtakhoof, gesê.

“Mense moet kan bewyse lewer dat ’n persoon beslis die misdaad gepleeg het, anders kan die klaer van laster of viktimisasie aange-kla word. Indien die polisie die verkeerde persoon in hegtenis neem, hou dit ernstige gevolge in.”

Sy het gevra dat inwoners verdagte mense of aktiwiteite dadelik aan die polisie of gemeenskappolisiëringsforum (GPF) rapporteer.

Verdagtes wat noodsaaklike infrastruktuur beskadig of steel, staar strenger strawwe in die gesig — soos aangedui in die wysigingswet op kriminele en verwante aangeleenthede.

Diegene wat met tweehandse items handel dryf, word aangeraai om by hul naaste polisiestasie vir ’n tweehandse handelslisensie aansoek te doen.

  • Om enige verdagte aktiwiteit te rapporteer kan mense die Bela-Bela-polisie se aanklagkantoor kontak by tel. (014) 736 9760/1 of tel. 079 889 5614.
    Kol. Abel Phetla, polisiestasiebevelvoerder, kan bereik word by tel. 082 565 8512, lt. kol. Piet Maswanganyi, sigbare polisiëringbevelvoerder, by tel. 082 414 2704, lt. kol. Annemarie Smith, speurtakhoof, by tel. 082 319 9336 of AO Johan Momberg, sektorbeampte, by tel. 082 729 0259.Vir die RSRT-buurtwag bel vir Gerhard Olivier by tel. 079 527 9988. Chris Esterhuizen, GPF-voorsitter, kan bereik word by tel. 082 807 7933.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button