Municipal

Nuwe dorpsontwikkeling kry wind van voor

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het tydens ’n algemene raadsvergadering wat op Vrydag 4 November gehou is die totstandkoming van 1 000 erwe in die Jasper-uitbreiding van die Phagameng-township goedgekeur.

Luidens ’n persverklaring wat op Dinsdag 8 November uitgereik is, het die munisipaliteit hulp ontvang van die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika (DBSA) om die informele nedersettings in die dorpsgebied te stig. Die owerheid het bevestig dat hulle gaan wegspring met hierdie 1 000 erwe op die grens van die Phagameng-township.

Marlene van Staden, burgemeester, verduidelik die proses as volg: “Die dorpstigting gaan gepaard met hersonering, asook landmeting om die erfhoeke te bepaal. Daarna word inwoners na die regte plekke verplaas.”

Sodra hierdie proses voltooi is, kan die owerheid by die provinsiale departement van menslike nedersettings (CoGHSTA) aansoek doen om die nodige infrastruktruur daarvoor aan te lê. Volgens wetgewing is dorpsontwikkeling (human settlements) ’n funksie van die regering en nie van die plaaslike munisipaliteit nie.

Van Staden voer aan dat bestaande en toekomstige dorpsontwikkeling onafwendbaar is, want daarsonder vermeerder plakkerskampe om die dorpsgrense wat tot verdere probleme lei. Daar is glo meer as 1 000 bykomende erwe wat ook nog gestig moet word.

Luidens die verklaring beskik die plaaslike owerheid nie oor die nodige geld om die dorpstigtings en plasings te hanteer nie. Daarom word die hulp van instansies soos die Ontwikkelingsbank hoog op prys gestel.

Die Waterberg-sakekamer het egter kapsie gemaak teen hierdie dorpsontwikkeling weens die gebrekkige infrastruktuur wat al reeds onvoldoende is om aan inwoners en sakeondernemings van Modimolle se behoeftes te voorsien.

“Die rioolnetwerk en waterpype is reeds onder geweldige druk, want die kapasiteit is onvoldoende vir die bestaande hoeveelheid huishoudings en sakeondernemings,” het Gerhardt Breytenbach, voorsitter van die sakekamer, gesê.

Hulle eis antwoorde van die owerheid oor hoe nuwe uitbreidings goedgekeur word terwyl swak dienslewering en infrastruktuur wat in duie stort aan die orde van die dag is.

Talle inwoners het hulle stemme by dié van die sakekamer gevoeg. Hannes Stoffberg, jarelange inwoner en landdros, het ook kommentaar gelewer oor die “ondeurdagte wyse waarop die dorp uitgebrei word”.

Hy voer aan dat dit meer sinvol sou wees vir die owerheid om ’n driejaarplan of selfs ’n vyfjaarplan daar te stel sodat die huidige verouderde infrastruktuur (riool, water, kragnetwerk en paaie) stelselmatig opgegradeer kan word.

“Dit is hierdie agteruitgang wat op die kort- en mediumtermyn veroorsaak dat meer en meer sakelui hul ondernemings elders gaan bedryf.”

Met die reënseisoen op hande hou inwoners van Modimolle en Mookgophong asem op dat die rioolnetwerk nie eersdaags in duie stort nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button