Entertainment

Mathys Roets bekoor Mookgophong-gehoor

Dit is altyd ’n voorreg om bekende sangers op die platteland te ontvang en dit was ook die geval toe die bekende en beminde Afrikaanse-sanger Mathys Roets by die Strijdom-teater in Mookgophong opgetree het.

Die klein, intieme bistro-teater is op die skoolgrond van Hoërskool Hans Strijdom en kan ’n maksimum van 60 gaste huisves.

“Ons gebruik die teater om ons kultuur te bevorder en dit is altyd ’n riem onder die hart om te sien dat die gemeenskap ons so ondersteun,” het Hanri de Jager, kultuurhoof van die skool, gesê.

Die aand is gekenmerk deur lag, luister en strelende musiek deur hierdie ongelooflike sanger. Die gehoor pak hul eie mandjies met eet-en drinkgoed en dit is ’n aand om agteroor te sit en ontspan. Roets het nie net vermaak met sy kenmerkende sangstem nie, maar het die gehoor laat skaterlag met sy spitsvondige opmerkings. Roets het gesê dat hy baie keer die kleiner gehore geniet en dat dit vir hom ’n genoeglike aand was.

Hy het nie net bekende Afrikaanse liedjies gesing nie, maar ook gewilde musiek van Leonard Cohen en die immergewilde Neil Diamond. Hy het die gehoor aangemoedig om saam te sing wat dit nog meer spesiaal gemaak het.

Die teater was die vorige kultuurhoof, Gerda Swanepoel, se breinkind en is op 3 Oktober 2019 geopen. ’n Asbes-klaskamer wat nie meer in gebruik was nie, is omskep in die teater. Bekende kunstenaars soos Jannie du Toit, JJ en Santha Clarke, Carel Trichardt, Petro Wessels en Corrazerwas het al daar opgetree.

Die skool poog om gereeld plaaslike en nasionale kunstenaars te kry om kultuur van hoogstaande gehalte na die platteland te bring.

Related Articles

Back to top button