Letters

Brief: Dit is wonderlik as wonderwerke gebeur

God het ons gebede verhoor.

Denise Edwards, Bela-Bela, skryf:

Vandag wil ek nie kla nie, want vandag is ek te dankbaar om te kla.

Lesers sal onthou ek het vroeër vanjaar ’n skrywe gerig in verband met die vervoerbehoefte vir leerders van die dorp na die Thusanang Special School. Ek het dit ’n gebedsaak gemaak.

God het ons gebede verhoor. In Oktober is die skool se bus herstel en is ons vervoerprobleem opgelos.

Hoewel Thusanang Special School ’n absolute seën vir ons kinders met leer- en intellektuele gestremdhede is, het die skool ook sy tekortkominge.

My dogter val in ’n moeilike groep. Sy is akademies net nie sterk genoeg vir ’n hoofstroomskool nie, maar is akademies weer te sterk vir ’n skool soos Thusanang.

Ek het haar laat toets vir tuisonderrigprogramme, maar dit was ongelukkig bo haar vuurmaakplek. Ek het dit weer ’n gebedsaak gemaak en my pleidooi is weer gehoor.

’n Huiswerksentrum word in Bela-Bela gestig en is meer as bereid om kinders wat ’n agterstand in akademie het, te help.

Ek het die vrou onmiddelik gaan sien, ons situasie aan haar verduidelik en sy was meer as gewillig om ons tegemoet te kom.

Nie net gaan my meisiekind die nodige lewensvaardighede by dié skool ontvang nie, maar met ekstra akademiese klasse sal sy ook die akademiese stimulasie kry wat sy op haar intellektuele vlak benodig.

Is dit nie wonderlik hoe God ons gebede verhoor en vir ons uitkoms gee nie?

Related Articles

Back to top button